BEESSTERT MET COKE EN BALSAMIESE ASYN
Resep en foto: Petro Borchard
Om mee te begin, ek is as ‘n reël skepties oor resepte wat Coke in kry, maar hierdie sous is hemels. Ek sal die resep verseker vir ander bees disse ook benut.
- 1.3 kg beesstert
- 1 liter Coke (nie die dieet weergawe nie)
- 60 ml balsamiese asyn
- 20 ml sojasous
- 500 g baba aartappeljies, in die skil
- 400 g jong groenboontjies
- 250 g sampioene
- gebraaide ui, indien verkies
- olie
- braai speserye
- droë ribbetjie marinade
Sny die ergste vet af.
Maak ‘n groot dikboom pot baie warm en voeg ‘n lagie olie in (of benut die vet wat afgesny is).
Braai die vleis goed bruin.
Moenie te veel op een slag probeer braai nie anders kook dit ipv braai.
Pak nou die vleis in jou slow cooker.
Strooi jou keuse van speserye oor.
“Deglaze” jou pan.
Voeg bietjie van die Coke onder in die pan waarin die vleis gebraai is en skraap al die lekker wat vasgebrand het los.
Voeg al die vloeistowwe oor die vleis.
Frummel bakpapier of waspapier, maak goed nat en plaas direk op die vleis om te keer dat die boonste lagie nie uitdroog nie.
Plaas deksel op en bak vir 6 ure teen 100°C. (Ek stel my pot op outomaties, dit is dan 2 ure op hoë temperatuur en daarna skakel dit af na laag.)
Kyk liewer na 4 ure of die vleis sag is.
Proe of enige smaakmiddels nog nodig is.
Ek verkies ook om my goente apart van die vleis by te voeg, om te keer dat die vleis nie uitmekaar val nie.
Haal die vleis uit en voeg die sous in ‘n oondbak.
Voeg nou die groente van jou keuse by en prut totdat dit amper gereed is.
Voeg nou die vleis weer by en maak deurwarm.
Indien nodig, verdik met mielieblom.
Nota:
Ek het pampoenpoffertjies met karamelsous en mielie en ertjies in botter gebraai by bedien.












