SARDYNE EN RYSPASTEI
Ek het vanaand hierdie vinnig gereg gemaak van ons blog af, baie baie lekker. Ek het nie soetrissies ingesit nie, maar wel sampioene. Ek stel ook voor hy moet ‘n rukkie staan voor mens bedien indien jy mooi blokke wil uithaal, anders is hy baie los en die vulsel kom nie maklike saam met die kors uit nie, maar regtig vullend en saam met ‘n lekker groenslaai, net die regte ding vir ‘n ligte ete. Dit is nie ‘n groot pastei nie, so ongeveer 4-6 porsies.
- Vulsel:
- 1 koppie rys, rou
- 1- 2 uie, fyn gekap
- 1 soetrissie, fyn gekap
- olie vir braai
- 1 blik sardyne in tamatiesous/chilliesous
- 2 eetlepels asyn
- ½ teelepel sout
- swart peper na smaak
- Deeg:
- ½ koppie koekmeel
- 1 teelepel bakpoeier
- knippie sout
- 2 eetlepels botter
- 1 eier
- ½ koppie melk
- ½ koppie kaas gerasper
Braai die uie en soetrissie in bietjie olie tot sag.
Kook die rys tot gaar volgens die verpakking.
Maak die sardyne in tamatiesous/chilliesous fyn.
Voeg die asyn, sout en swart peper by en meng deur.
Voeg gebraaide uie-mengsel en rys by die vis.
Meng goed deur en skep in gesmeerde oondvaste bak.
Maak die kors deur die koekmeel, bakpoeier en sout saam te sif.
Vryf die botter in die meelmengsel in. Klits die eier en melk saam en hou eenkant.
Voeg die kaas by. Meng goed deur en meng met die eiermengsel.
Skep die deeg oor die vismengsel en bak teen 180 – 200 ºC vir 20 – 30 minute of tot gaar.
Geniet!!
Resep: Bets Lourens
Foto: Rina Kleinhans












