WORTELKONSERF
- 750 g geskilde geelwortels, grof gerasper
- 1 liter geskilde pynappel, grof gerasper
- paar knoetse gedroogde gemmerwortel
- paar stokkies pypkaneel
- 1 liter water
- 800 g witsuiker
Bedek die wortels en pynappel in aparte bakke met soutwater en laat dit oornag week.
Dreineer die wortels die volgende dag, spoel de soutwater af met skoonwater en stoom dit in baie min water in ‘n kastrol op die stoof tot sag.
Dreineer die wortels weer. Dreineer die pynappel goed en spoel die soutwater af met skoon water.
Kneus die gemmer en bind dit lossies saam met die pypkaneel in ‘n stukkie moeselien of kaasdoek toe.
Verhit die wortels, pynappel, speseryesakkie, water en suiker stadig tot kookpunt en roer dit aan die begin totdat die suiker opgelos is.
Prut die konserf totdat dit helder en deurskynend is, roer dit af en toe.
Verwyder die speserysakkie en gooi dit weg.
Skuim die konserf af, indien nodig. Bottel dit warm in gesteriliseerde flesse en verseël dit dadelik.
Nota:
Ek het die resep probeer en dit bietjie aangepas, halveer, ½ teelepel gemengde speserye en ½ teelepel fyn kaneel bygevoeg. Ek het ook die suiker met 100 g op die halwe resep verminder. Dit is volgens persoonlike smaak, indien jy van ‘n soeter weergawe hou, gebruik die aangegewe hoeveelheid suiker. Ek het ook die konserf aan die einde van die kookproses met ‘n staafmenger fyn gemaak tot ‘n pulp, omdat ek dit vir nog resepte wil gebruik waar pulp benodig word. ”
Resep getoets en foto: Marlene Potgieter