WORTEL “WRAPS” MET GEPEKELDE WORTELS EN HOENDER
Wortelpannekoek
Nou ja, ek het ook op die wortel-wa geklim en vir julle lekker wortel pannekoek gebak. Dit is regtig baie lekker, en dit gebruik so min bestanddele wat dit goedkoop ook maak. Die kinders sal nie eers weet hulle eet wortels nie. Pas die vulsel aan soos verkies, of eet dit net met kaneelsuiker, dit is ‘n wenner resep om aantepas na smaak.
- 1 koppie koekmeel
- 1½ koppies melk
- 100 g fyn gerasperde wortels
- ½ teelepel sout
- 1 eetlepel gekapte sprietuie (opsioneel)
- Kossproei of bietjie olyfolie om meet te bak
Plaas die bestanddele in ‘n voedselverwerker of gebruik ‘n “stick blender” en meng goed tot alles fyn is en ‘n pannekoekdeeg vorm.
Gebruik ‘n “non stick” 18cm pan of pan van jou keuse, spuit met kossproei of smeer liggies met olyf olie en maak die pan warm, maar nie te warm. Skep ongeveer 60 ml van die beslag in die pan, versprei mooi dat die hele pan se bodem bedek is, en bak soos pannekoek. Keer om sodra die pannekoek amper heeltemal gestol het aan die bo kant. Pasop vir te hoë hitte, die pannekoek verkleur baie vinnig donker. Ek het op redelike lae hitte gebak om ‘n mooi ligte pannekoek te kry.
Keer uit op ‘n bord, en herhaal met die res van die deeg.
Maak ongeveer 10 pannekoek “wraps”
- Vulsel: Hoeveelheid na gelang van die hoeveelheid “wraps” jy wil maak.
- gepekelde wortelstokkies
- geroosterde hoenderborsies
- fyn gesnyde persui
- gerkins in dun repies gesny
- gemengde slaaiblare
- ongegeurde jogurt
- avokado in dun repies gesny
- sout en peper na smaak
- Opsioneel: kruisement blaartjies
Plaas die wortelstokkies in 2 eetlepels appelasyn en bietjie growwe sout, meng deur en laat staan ‘n rukkie.
Neem die “wraps” en vul soos verkies met bogenoemde bestanddele. Skep bietjie jogurt oor en rol op. Sny middeldeur en bedien as ‘n ligte ete.
Resep en foto: Rina Kleinhans