WORSROLLETJIES MET ROU MAALVLEIS
- 1 kg maalvleis van jou keuse. (Ek het 75% eland, 25% varkmaalvleis gebruik)
- 2 uie, fyngekap
- 1 knoffelvinger, gekap
- botter, vir uie braai
- 30 ml tamatiesous
- 30 ml Dijon mosterd
- 10 ml sout
- 30 ml Worcestershire sous
- 1 pakkie bruin uiesoppoeier
- 10 ml growwe swartpeper
- 3 rolle skilferkorsdeeg, ontdooi
- eier om mee te bestryk
Braai die gekapte uie in botter tot goudbruin, voeg die knoffel by so minuut voor jy die uie gaan afhaal en braai saam.
Haal van die hitte af en laat afkoel
Meng die maalvleis, uiemengsel, tamatiesous, sout, peper, Worcestershire sous, mosterd en uiesoppoeier saam.
Sit in ‘n plastiekspuitsak en knip die punt af sodat jy ongeveer ‘n 2.5 cm gat het.
Rol die skilferdeeg oop op die plastiekvelletjie waarin hy verpak is. Halveer dit in die lengte.
Spuit die maalvleismengsel in ‘n eweredige “rol” op die kant van een van die lengtes deeg.
Smeer die ander kant met bestrykeier en rol die deeg met behulp van die plastiekvelletjie op. (Sien aangehegte foto’s)
Rol sommer toe in die plastiekvelletjie en plaas op ‘n bakplaat.
Vries om stewig te maak vir so 30 min.
Sny elke rol in lengtes so lank soos jy dit wil hê en bestryk met eier. “Score” op ‘n paar plekkies bo-op.
Pak op gesmeerde bakplaat en bak by 200°C vir 15 min.
Draai die plaat en verlaag die hitte na 180°C en bak ‘n verdere 15 min.
Nota:
Ek het die helfte van die resep gebak en die ander helfte gevries vir later.
Resep en foto: Frikkie Jones