WORSPASTEI MET SKILFERKORSDEEG
Maak heel eerste die tamatiesousmengsel indien jy nie ‘n blikkie sous gaan gebruik nie. Ek verkies vars groente vir die tamatiemengsel.
- Tamatiemengsel:
- 1 kg tamaties, skille verwyder en opgekerf
- 2 medium groen soetrissies opgekerf, pitte verwyder
- 3 medium uie, opgekerf
- Aromat en peper na smaak
Kook bogenoemde saam tot ‘n dikkerige tamatiemengsel/sous verkry word en die uie en soetrissies sag is, pasop dit kan aanbrand, roer gereeld. Laat afkoel anders gaan dit die deeg pap/nat maak.
Voorverhit oond tot 180ºC. Ek het die elektriese oond se bo en onderste element aangesit dat die pastei bo en onder eweredig bak. Smeer ‘n groot plat bakplaat (ek het gespuit met spray and cook).
- 2 x 400 g ontvriesde (maar koue) rolle skilferkorsdeeg (puff pastry)
- 600 g rou ontvriesde lekker boerewors (of selfs gesnyde viennas van jou keuse as die slaghuis al toe is), opgesny in stukkies.
- ongeveer 2,5 koppies gerasperde Mozarella kaas
- 1 geklitste eier of bietjie melk om bo-oor te smeer
Neem een rol deeg en versprei dit oor die bakplaat. Druk effens en eweredig orals aan bakplaat vas. Smeer die koue tamatiemengsel oor die deeg. Rangskik dan die gesnyde rou boerewors oor, gevolg deur die mozarella kaas. Trek die laaste rol deeg bietjie dat dit effens rek en oor die bakplaat sal pas en bedek die gevulde deeg en druk effens vas oor onderste een.
Smeer eier of melk oor die boonste laag deeg. Druk gaatjies met ‘n vurk in die deeg sodat stoom kan ontsnap tydens die bakproses.
Sny die pastei in die grootte stukke wat jy verlang in stukke regdeur en plaas in die oond.
Dit bak dan in daardie groottes tot gaar.
Bak tot goudbruin bo en onder en mooi gaar.
Die deeg sal so mooi “flaky” wees. Lekker warm vir aandete of selfs koud die volgende dag.
Sal ook goed werk vir ‘n braai pie!
Resep geplaas deur Christelle van Rooyen
Foto: Christelle van Rooyen