WILMA SE HAPPIETERT
- 2 rolle skilferkorsdeeg
- 1 sakkie tamatiepasta
- 250 ml gerasperde Cheddarkaas
- ½ groen soetrissie, opgesny
- handvol sampioene, opgesny
- 1 middelmatige grootte ui, opgekap
- 1 pakkie “bits o’bacon”
- olyfolie vir braai
- sout en swartpeper na smaak
- braai speserye na smaak
- knoffel fyngedruk, na smaak
- rissievlokkies, na smaak
- 1 geklitste eier
Voorverhit die oond tot 160ºC.
Spuit ‘n bakplaat wat ‘n sirkel van 30 cm in kan pas, met kleefwerende kossproei.
Verwyder die deeg van die verpakking en plaas dit in die bakplaat, plaas ‘n groot bord op die deeg en sny ‘n sirkel uit elke rolletjie, daar gaan deeg oorbly, hou dit eenkant.
Smeer tamatiepasta op die een deegsirkel, sprinkel die kaas op die tamatiepasta en bedek die deeg met ‘n klam doek.
Verhit ‘n bietjie olie in ‘n pan op die stoof en braai die spek, uie, soetrissie, en sampioene in die warm pan tot gaar.
Geur met sout, peper, braaispeserye, knoffel en rissiepitte na smaak en laat die mengsel vir nog 2 minute braai.
Plaas die spekmengsel op die een deegsirkel wat met tamatiepasta gesmeer is en plaas die tweede deegsirkel bo-op die vulsel.
Plaas ‘n glas in die middel van die deeg en sny die deegsirkel met ‘n mes vanaf die middel na buite in skywe soos ‘n koek. Moenie die skywe deursny by die sirkel in die middel nie.
Draai elke skyfie twee keer in die rondte. Dit is bietjie morsig.
Druk die punte van elke skyf stewig vas, verf die deeg oral oor met eier.
Plaas die bakplaat met die deeg in die voorverhitte oond en bak tot goudbruin en gaar.
Verwyder uit die oond wanneer die deeg gaar is en plaas die sirkel op ‘n opdien bord of plank.
Breek skywe van die middel van die sirkel af af, en geniet met ‘n slaai of net so as ‘n versnappering.
Nota:
Die deeg wat oorbly – Smeer met tamatiesous, strooi kaas oor en bak in ‘n warm oond. Wanneer gaar, sny in vingers of in blokkies en bedien as versnappering of ligte ete.
Resep en foto: Wilma Josey Venter