WILDSPASTEI MET SLAPDEEGKORS
Resep geplaas deur en foto: Louisa Hollenbach
Vir hierdie pastei kan springbok, blesbok, koedoe, bosbok of gemsbok gebruik word. Gewoonlik word die vleis afgekook van die bene nadat die biltonge uitgesny is. Met hierdie fyn vleis kan jy dan ‘n heerlike pastei berei.
Vir hierdie pastei kan springbok, blesbok, koedoe, bosbok of gemsbok gebruik word. Gewoonlik word die vleis afgekook van die bene nadat die biltonge uitgesny is. Met hierdie fyn vleis kan jy dan ‘n heerlike pastei berei.
- Vir fyn vleis: Genoeg vir 2 pasteie
- ± 3 kg wildsvleis
- 500 g vet varkvleis OF 500 g streepspekvleis
- 125 ml rooi wyn, opsioneel
- 2 beesvleisekstrakblokkies
- 4 wonderpeperkorrels
- 3 heel naeltjies
- 2 ml fyn neutmuskaat
- Plaas die wilds-en varksvleis/streepspekvleis en wyn saam met al die geurmiddels in ‘n kastrol.
- Bedek met water en prut ‘n paar uur lank tot die vleis loskom van die bene.
- Verwyder die bene en heel speserye, skep vet af en skep vleis uit. Behou ook die vleissous.
- Om een pastei te maak:
- Vulsel:
- 6 x 250 ml (6 koppies) fyn vleis
- 2 groot uie, fyngekap
- olie
- 250 g sampioene, gehalveer
- 15 ml sousverdikker soos Bisto
- 15 ml koekmeel
- 250 ml vleissous wat behou is
- Kors:
- 250 ml koekmeel
- 2 ml sout
- 10 ml bakpoeier
- 1 ekstra-groot eier
- 80 ml olie
- 125 ml melk
- 15 ml suurlemoensap
- 125 ml Cheddarkaas, gerasper
- Voorverhit die oond tot 180ºC. Bespuit ‘n oondvaste pasteibak met kleefwerende kossproei of smeer goed.
- Skep die 6 koppies wildsvleis in die bak en hou eenkant.
- Soteer die ui in ‘n bietjie olie tot sag. Voeg die sampioene by en roerbraai tot bruin.
- Meng die sousverdikker en koekmeel met die vleissous en voeg by die sampioenmengsel.
- Laat prut tot die sous effens verdik en meng in by die wildsvleis.
- Sif die droë bestanddele vir die kors saam.
- Meng die res van die bestanddele, buiten die kaas, goed en voeg by die droë bestanddele.
- Roer tot glad en voeg die kaas by.
- Meng effens en skep oor die wildsvleis.
- Bak 30 – 45 minute lank of tot die kors gaar en goudbruin bo-op is.
Dien op saam met kweperjellie.
Category:












