WENKE VIR KRAKERIGE, OONDGEBAKTE AARTAPPELS
Lien Bruwer:
Ek vra raad om oond-aartappels te maak, asb. Van die wat so lekker bruin is aan die buitekant en sag binne.
Petro Labuschagne:
Kook eers die heel aartappels, skil en plaas in oondbak. Sprinkel met sout en kookolie en bak tot lekker bruin.
Annette Visagie:
Kook die aartappels in water met 1 teelepel bakpoeier tot sag, dreineer en plaas in ‘n oondpan met bietjie olyfolie. Bak in die oond by 180ºC tot bruin.
Mathie Naude:
Die geheim is om kort kort van die warm olie in die pan, oor die aartappels te skep, so bak die aartappels bruin.
Janetta Reid:
Ek kook die aartappels tot effe sag, pak in ‘n bakplaat, spuit met kleefwerende kossproei, sprinkel met aromat en rooster dan onder die oondelement.
Rina Kleinhans:
In die ou dae het hulle uitgebraaide varkvet gebruik vir die beste gebraaide aartappels.
Flipkotie Olivier:
Hierdie is wat ek doen, dit is maklik en baie lekker.
Sny die aartappels in 4 blokke per aartappel. Plaas die aartappels in ‘n sak, knoop die sak goed toe en mikrogolf die aartappels in die sak vir 8 minute op hoog. Sny die sak oop, plaas die aartappels op ‘n bakplaat, laat dit afkoel en plaas dit in die vrieskas tot die aartappels baie koud is, gewoontlik so 2 ure. Wanneer die aartappels goed koud en amper gevries is, verwyder uit die vrieskas, sprinkel met olyfolie en sout na smaak en bak die aartappels in die lugbraaier of oond op hoog tot ek happy is met die kleur. Verwyder uit die lugbraaier of oond en eet, baie lekker.
Annelize Jorge:
Hier in Engeland maak ons so – skil die aartappels, plaas in kastrol met koue soutwater en kook op die stoof tot amper sag. Terwyl die aartappels kook, skep gansvet in ‘n oondpan en plaas die pan in die oond om warm te word. Wanneer die aartappels saggerig is, dreineer die water en gee die pot (met deksel op) ‘n goeie skud of twee om die kante van die aartappels donsig te maak.
Skep die aartappels in die warm gansvet en bedruip tot al die aartappels goed met vet bedek is. Voeg knoffel, seesout en roosmaryn by die aartappels in die pan en plaas die pan in die oond vir ten minste 40 minute op 200ºC. Bedruip elke ± 15 minute om dit alom bruin te bak.
Nadine Steyn:
Ek kook die aartappels eers effe sag in soutwater, dreineer en sprinkel bietjie koeksoda oor die aartappels, plaas in die oond met bietjie olie. Bak heerlik bros buite en sag binne.
Hyla Van Niekerk:
Wanneer ek vleis in die oond bak, verwyder die gaar vleis en giet bietjie water by die vetjies wat agterbly in die bak. Plaas voorafgekookte aartappels in die oondbak en bak die aartappels verder gaar in die oond.
Maggie Howell:
Kook die aartappels tot amper sag en braai verder in olie op die stoof. Dit was sag binne en lekker bros buite en gaan vinnig.
Elsabe Visagie:
Kook die aartappels tot gaar op die stoof, dreineer en laat die aartappels afkoel. Geur koekmeel met sout, peper en speserye. Rol die gaar aartappels in die gegeurde meel en bak in matige warm olie tot gaar. Dreineer op kombuispapier. Bros buite, sag binne.
Amanda Bezuidenhout:
Kook die aartappels tot gaar en krap die oppervlak met ‘n vurk, rol die aartappels in maziena en braai dit in olie tot lekker bros.
Adele Marais Kuit:
Iets wat baie lekker is. Kook die aartappels tot net sag in water met ‘n teelepel of 2 bakpoeier by. Bak dit in die oond. Die aartappels moet in stukke so groot soos ‘n R5 gesny word, voor jy dit kook. Dan kom dit so sag binne en krakerig buite om uit.
Marietjie Fairweather:
Kook aartappels tot amper gaar, dreineer en skud die pot goed. Plaas olie in ‘n oondpan en maak dit warm in die oond, plaas die aartappels in die warm pan. Ek meng seesout, swart peper, knoffelpoeier na smaak, olie en mayo goed saam en sprinkel dit oor die aartappels. Plaas die pan terug in die oond en bak tot gaar. Buite is krakerig en binne sag.
Franco Dippenaar:
Laat lê die aartappels in water en spoel die stysel af. Kook in water tot net sag en dreineer. Voeg koeksoda by aartappels en skud dit deur. Bak in oond tot “crispy”.
Marie Pearson:
Sny baba aartappels in helfte en braai in ½ botter en ½ olyfolie oor matige hitte in ‘n pan op die stoof met 1 teelepel van elk oregano, gerookte paprika, braaivleis speserye, sout en peper, ½ teelepel basiliekruid, 1 teelepel elk vars opgekapte sprietuie, pietersielie en koljanderblare. Jy kan ook bietjie knoffelsout byvoeg. Heerlik saam met kookkos of braaivleis.
Liza Visser
Kook die aartappels eers 15 min in water met ‘n lekker skeet kerrie en 50 – 100 ml asyn en bak dan in die oond. Jy sal nooit weer gewone aartappels maak nie, glo my.
Amanda Husselmann:
Kook die aartappels in water met borrie tot gaar en braai dan in olie.
Dalene Venner:
Ek sny die aartappels in kwarte, kook sag in mikrogolf en bak dit dan in olie, dan is hulle mooi bruin en “crispy” aan die buitekant met die binnekant heerlik sag.
Louise Groenewald
Kook geskilde, heel aartappels in die drukkoker vir 10 minute. Dit was groot aartappels. Die volgende dag het ek dit halveer en met olie en Ina Paarman aartappelspeserye gesmeer. Plaas olie in ‘n oondpan en verwarm dit tot lekker warm in die oond. Plaas die aartappels in die oondpan en bak vir 1 uur teen 180°C in die oond. Draai die aartappels om na ‘n halfuur. Dit was heerlik.
Gezina En Hennie Gouws:
Kook die aartappels tot amper sag, voeg bietjie olie in ‘n oondpan, net genoeg om die bodem te bedek. Sprinkel speserye en olie oor die aartappels, voeg dit in die pan, stel die oond op 140ºC en bak die aartappels stadig in die oond. Ek plaas die aartappels in die oond en vergeet van dit. Draai die aartappels om so af en toe. Lang proses maar die moeite werd.
Susanna Kruger:
Ek kook die aartappels eers ‘n bietjie, droog dit af met handdoekpapier, rol dit in Maizena en bak in matige olie, nie té warm nie, maar ook nié té koud nie, tot goud bruin.
Esme Kraft:
Hierdie is nou nie in die oond nie, maar dit is heerlik. Ek wou dit self nie glo tot ek dit self gedoen het nie. Voeg olie in ‘n diep kastrol, so 500 ml en voeg 250 ml koue water by. Plaas die gewaste aartappels met skil en al in die olie- en watermengsel. Skakel die plaat aan sodat die olie en water geleidelik warm word, die water verdamp later. Moenie die olie te warm laat word nie, anders is die aartappels bruin buite en hard binne. Moenie die aartappels roer nie, jy kan net so halfpad deur die proses met ‘n vurk liggies roer. Jy sal nie weer aartappels op ‘n ander manier bak nie, dit is heerlik ek belowe.
Ina Van Biljon:
Ek sny die aartappels in wiggies, strooi aartappelspeserye oor, ek gebruik die lugbraaier se papierbakkie, pak die wiggies in en braai op 180ºC vir 20 min. Draai die aartappels om na 10 minute en braai dit verder. Afhangende ook hoe dik die wiggies is, dan kan jy die baktyd aanpas.
Alta Gunter Van Dyk:
Kook die aartappels met skil, trek die skil af, plaas die aartappels in ‘n bak en skud die aartappels met sout in die bak. Die aartappels maak sulke frimmeltjies aan die buitekant. Bak die aartappels in die oond met eend- of varkvet, roer die aartappels nou en dan tydens die bakproses.
Glynis De Jager:
In the old days you would put them in the oven, add salt and pepper, pour oil over and bake in the oven. It’ll go crispy on the outside and soft in the inside, the best way to make roast potatoes.
Foto: Louise Groenewald