Your Recipe Blog

WENKE VIR DIE KOOK VAN KONFYT

WENKE VIR DIE KOOK VAN KONFYT

Toebehore:
Gebruik ‘n groot genoeg kastrol sodat die bestanddele vinnig kan kook sonder om oor te kook. Die boom van die kastrol moet swaar wees sodat dit nie maklik aanbrand nie.
Dit is belangrik dat die konfyt vinnig kan kook en verdamping te bespoedig sodat die konfyt vinniger kan stol. Kastrolle van vlekvrye staal is verkieslik bo aluminium, wat kleur, en smaak nadelig kan beïnvloed. Outydse koperpotte is ideaal vir geel en groen vrugte.
‘n Houtlepel met ‘n lang steel.
‘n Skaal of akkurate maatkoppies.
‘n Gaatjieslepel om skuim af te skep.
Suikertermometer (handig maar nie onontbeerlik nie).
Skoon, gesteriliseerde flesse wat in die oond by ‘n lae temperatuur warm gehou word sodat die warm konfyt nie die flesse sal laat bars nie.
Kerse of was wat gesmelt kan word om oor konfyt te plaas of ‘n sirkel botterpapier wat in brandewyn gedoop is.
Deksels wat stewig pas.

Wenke:
Gebruik vrugte wat nie te ryp is nie. Die konfyt sal net stol as die pektien, suur en suiker in voldoende hoeveelhede teenwoordig is. Die pektien- en suurinhoud kan verhoog word deur kookappels, suurlemoensap of wynsteensuur by te voeg. Vrugte met ‘n hoë pektieninhoud is piesangs, vye, druiwe, perskes, pynappels en aarbeie.
Gebruik witsuiker en maak seker dat die verhouding van suiker tot vrugte korrek is. Te min suiker sal verhinder dat die konfyt heeltemal stol en te veel sal ‘n donker taai resultaat lewer en versuiker. Deur suiker effens warm te maak in die oond voordat dit gebruik word, sal dit vinniger smelt.
Die stroop moenie kook voordat die suiker opgelos is nie, anders sal die konfyt sandsuiker.
Konfyt sandsuiker as te veel suiker in verhouding tot die hoeveelheid in verhouding tot die hoeveelheid vrugte gebruik is, of die konfyt te lank gekook is om stolpunt te bereik wanneer die suiker te min was.
Konfyt kan muf as dit nie lank genoeg gekook is nie, ongesteriliseerde flesse gebruik word, of flesse nie behoorlik gevul of bedek is nie.

Hoe om konfyt te toets:
Skep ‘n bietjie konfyt op ‘n bord uit en laat dit vinnig afkoel. Dit moenie loop as dit koud is nie en dit moet ‘n merk maak as jy dit met vinger toets.
Skep ‘n bietjie konfyt in ‘n tafellepel en laat stadig van die lepel afdrup. As die konfyt in stukkies afdrup, is dit gereed.
Terwyl konfyt getoets word, moet dit van die hitte verwyder word.
As ‘n algemene reël, kan aangeneem word dat konfyt gereed is wanneer die kokende borreltjies uitswel in groot borrels.

Foto: Louisa Hollenbach

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page