WENKE VIR DIE KOOK VAN GROENVYE
Heliette Smit
Ek gee die volgende raad vir groenvye kook.
Ons steek net ‘n lekker dik staal pen deur die vy, in plaas van kruisie sny.
Vat die vy in jou hand met die punt na bo en die gaatjie kant onder, steek nou die pen van links na regs deur die “magie” van die vy, net 1 keer. ( sien foto aangeheg)
Ek laat dit oornag in kalkwater lê. (15 ml op 3 liter water. Los dit op en laat afsak en giet oor die vye)
Die volgende dag spoel ek dit goed af en kook dit op in water waarby ‘n mespunt kopersulfaat gevoeg is. (kry by kooperasie). Dis om die groen kleur te behou.
Ek druk die heeltyd die groenvye onder die water in.
Moenie te sag kook. Ek toets deur die agterkant van ‘n vuurhoutjie deur te steek, hy moet bietjie sukkel om In te gaan, dan is daar minder vye wat breek.
- Kook jou stroop in die volgende verhouding nagelang van hoeveel stroop jy nodig het:
- 1 koppie water
- 1 koppie suiker
- paar naeltjies
- stuk kaneel
- ‘n paar stukke vars gemmer
Ek sit die vye dadelik in kokende stroop nadat dit in water gekook is. Ek kook dit tot die stroop dik is. Dan koel ek dit af in die stroop. Die middag of volgende dag vul ek die stroop aan (resep onder) en kook dan weer tot die stroop se dikte reg is, dan bottel ek dit warm na die tweede kook.
Ek vul die stroop aan met ‘n stroop wat ek kook van 1 liter water, 2 kg suiker en suurlemoensap.
Ek sorg dat dit toe is onder die stroop na die eerste kook.
Adrian Fleming
As dit perfek gekook is maw aan die einde van die kookproses in die stroop maak die stroop groot borrels byna soos groot donderweer reëndruppels dan kan jy dit louwarm bottel kom niks oor nie en ek glo die x-tra stroop is warm oor die klaar gekooktes gegooi ek doen dit ook so.
Christo Van Niekerk
My ouma het my geleer, was paar vye blare skoon, kook saam, gee dieper geur en smaak. Wanneer gebottel word, skep blare uit en gooi weg.