Your Recipe Blog

WENKE EN RESEPTE VIR SOET LEMOENKONFYT

WENKE EN RESEPTE VIR SOET LEMOENKONFYT

Patsy Ince:
Ek soek asseblief ‘n resep vir lemoenkonfyt sonder die skil, wat dit bitter maak.

Hennie En Marthie Malan:
Dit is nie die skil wat dit bitter maak nie, dit is die pitte.

Sophia Hartzenberg:
Ek los net twee of drie pitte in my marmalade en is glad nie bitter nie.
Ook, die wit van die lemoen moet alles afgeskil word, van die wit maak die konfyt bitter, ek maak dit gereeld en myne is nie bitter nie.

Heibre van der Westhuizen:
Jy tap net baie warm kraanwater op die lemoene en laat dit oornag staan. Dreineer die water af die volgende dag en gebruik die lemoene vir konfyt. Dan is dit nie bitter nie.

  • LEMOENKONFYT – Marietjie Greyvenstein
  • 5 groot lemoene
  • 3 koppies suiker
  • klontjie margarien

Rasper die skil van die lemoene af en verwyder die wit. Indien die lemoene lekker maklik skil, dan skil die wit gedeelte sommer saam af, dan hoef jy die skil nie af te rasper nie.
Halveer en maal die lemoene.
Meet die lemoenmoes af en voeg 750 ml water by vir elke 250 ml lemoenmoes. Laat oornag staan.
Kook die lemoenmengsel die volgende dag tot sag.
Voeg die klontjie botter by wanneer dit oor die rand wil skuim.
Meet die gekookte mengsel af en voeg 1 koppie suiker by vir elke 1 koppie gekookte lemoenmoes.
Roer tot die suiker opgelos is en kook vinnig in ‘n oop kastrol tot die regte dikte.
Skep die skuim af soos nodig. Bottel warm in gesteriliseerde bottels.
Heerlik en glad nie bitter nie.

SOET LEMOENKONFYT – Marianne Visser
Wanneer jou dokter onheilspellend sê jy moet vir verdere toetse gaan, kook soet lemoenkonfyt teen die ellende. Dis ‘n goeie ding dat ek al 3 dae gelede die lemoene begin week het. Die hoeveelheid van die bestanddele word bepaal deur die hoeveelheid lemoene wat jy gebruik vir die resep.

lemoene
sap van 1 suurlemoen
water
suiker

Neem 4 tot 8 lemoene, druk gaatjies met ‘n vurk oral oor die lemoene.
Plaas die lemoene in ‘n bak of skottel en bedek met water, week die lemoene vir 3 dae so in die water. Vervang die water soggens en saans. Wanneer die lemoene so in water week, is die konfyt nie bitter nie.
Sny die lemoene ná 3 dae middeldeur, verwyder die wit stringetjie binne-in die lemoene en sny die lemoenhelftes met skil en al in halfmaanrepies.
Weeg die lemoene en plaas in ‘n groot pot.
Voeg dieselfde gewig water en die sap van 1 suurlemoen by die lemoene.
Bring die lemoene en water tot kookpunt en kook vir 10 minute, verlaag die hitte.
Voeg dieselfde gewig suiker as die gewig van die lemoene by die lemoene en water in die pot.
Roer oor lae hitte tot die suiker gesmelt is.
Verhoog die hitte tot die mengsel begin prut, roer elke 15 minute.
Doen die kouepieringtoets om te bepaal of die konfyt gereed is. My konfyt het vir 2 ½ uur gekook.
Bottel die konfyt in gesteriliseerde flesse en deksels, seël dadelik.
Só maklik en heerlik!

MAKLIKE SOET LEMOENKONFYT MET PYNAPPEL
10 lemoene
3 liter water
2,5 kg suiker
¼ koppie suurlemoensap
1 blikkie fyn pynappels

Plaas die lemoene in ‘n wasbak met water.
Neem ‘n skrop sponsie (die groen kant) en skrop skoon.
Sny die lemoene met skil en al in dun skyfies en verwyder al die pitte.
Kook die skywe in die 3 liter water totdat die skil sag is, toets die skil met ‘n vuurhoutjie, ie vuurhoutjie moet maklik deurdruk.
Voeg die suiker by en roer totdat die suiker opgelos is, moenie kook nie.
Wanneer die suiker heel opgelos het, voeg die suurlemoensap by.
Kook verder tot wanneer dit verdik en reg toets om te bottel, maak dit fyn met ‘n staafmenger in die pot.
Voeg die pynappel by en kook net deur.
Bottel warm in goed voorbereide bottels en deksels, seël dadelik.
Dit is heerlik.

Resep en foto: Emmie Snyman

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page