WENKE EN RAAD VIR ROOMKAASVERSIERSEL
Hierdie vraag is al so baie hier gevra en ons het al baie antwoorde gekry, maar vanaand op ‘n kosprogram het een van die deelnemers dit gedoen en vertel dat dit die probleem oplos.
Almal kla altyd wanneer hulle roomkaas versiersel maak, dan is dit pap en hoe meer mens klits, hoe slapper raak dit. Sy het vanaand gewys, mens klits eers die botter en versiersuiker saam, baie goed, en dan voeg jy die roomkaas, lepel vir lepel by en hou aan met klits. Dit was pragtig, so mooi styf dat sy dit kon “pipe”. Nou ja, daar het ons dit, moenie al die roomkaas op eenslag byvoeg nie, maar bietjie bietjie.
- Susan Van Dyk:
- 500 g margarien
- 7 koppies versiersuiker
- ½ bakkie maaskaas
- Klits slegs die margarien en versiersuiker saam. Wanneer dit te styf word, skep die maaskaas lepelsgewys in.
- Die geheim is in die klits. Ek het die major Kenwood en ek klits vir hom tot dit soos styfgeklopte room lyk. Dit “pipe” maklik en lyk netjies.
- Ek gebruik slegs 70 % volvet bakmargarien. Moenie met medium vet probeer nie, die water inhoud is te hoog. Dis my opinie en ondervinding.
- Natasha Prinsloo:
- Gebruik volvet-roomkaas:
Moenie lae-vet of “smooth” roomkaas gebruik nie, want dit bevat te veel water en sal die versiersel laat skei of loperig maak.
Koue kaas, sagte botter:
Klits die roomkaas koud, direk uit die yskas, maar maak seker die botter of margarien is sag (kamertemperatuur), sodat dit nie klonte vorm nie.
Moenie te lank klits nie:
Roomkaas kan vinnig “waterig” raak as dit te veel gemeng word. Klits net tot dit glad is.
Sif altyd die versiersuiker:
Om ‘n gladde tekstuur sonder korrels te verseker, moet die versiersuiker deeglik gesif word voordat dit bygevoeg word.
Voeg ‘n suurlemoen-skop by:
‘n Teelepel suurlemoensap of ‘n bietjie ekstra vanilla geursel sny die soetheid van die suiker en laat die roomkaassmaak uitstaan. - Louise Veldman:
Dit hang als af van die roomkaas wat jy gebruik. - Admin Rina:
Gebruik die blokke roomkaas, dis al wat vir my werk en moenie te veel klits nie - Getha Singleton Meyer:
- Lancewood se roomkaas werk fantasties, asook Spar se maak, die bakkies roomkaas, meduim vet.
- Geheim – stuk margarien en houer roomkaas, klits dit met klitser tot net gemeng, voeg dan so 500 g versiersuiker by, meng verder met klitser tot net gemeng.
- Wenk – Gebruik goeie 70 % margarien, meduim vet roomkaas en moenie baie klits nie.
- Susanna Kruger:
Ek gebruik net één versiersel vir wortelkoek, dis heerlik en goedkoop. - 250 g wit Wooden spoon margarien
- 1 eier
- 500 g versiersuiker
- suurlemoensap na smaak
- Meng margarien, eier en versiersuiker baie goed tot daar geen klonte is nie. Meng dan suurlemoensap na smaak by, toets maar hoe “suur” wil jy dit hê, net nie te veel nie, anders is versiersel bitter.
- Plaas die mengsel in die yskas vir 1 uur. Ek het nog nooit loperige versiersel gehad nie. Jy kan, as jy wil, roomkaas by dit inmeng, maar dit is regtig nie nodig nie, hierdie is baie lekker.
- Eleanor Minny:
- Dis gewoonlik die roomkaas wat te veel water in het. Plaas die roomkaas in ‘n skoon doek, oor ‘n sif of vergiette, oornag in die yskas. Dit behoort jou probleem uit te sorteer.
- Freda Raper:
- Ek klop botter tot glad, voeg versiersuiker by en klop dan suurlemoensap en die roomkaas laastens by. Altyd ‘n sukses.
- Die is oorlede Fatima Sydow se resep:
- 350 g botter kamertemperatuur
- 2 koppies gesifde versiersuiker
- 2 eetlepels suurlemoensap
- 250 g roomkaas of maaskaas
- Klits die botter goed met ‘n elektriese klitser voeg die versiersuiker by en klits weer goed. Voeg die suurlemoensap en die roomkaas of maaskaas by en roer deur tot gemeng.
- Foto: Elsabie Templeton
- Jy kan Kiri roomkaas (in die bakkie) of enige volroom roomkaas gebruik, dit moet teen kamertemperatuur wees. Dit hoef nie Philadelphia te wees nie. Ek het dit bewys met hierdie foto. Dit versier perfek met enige vorm versierpunt.
- Magda Van Der Merwe:
- Ons moet oplet, daar is ‘n groot verskil tussen roomkaas en geroomde maaskaas. Ek gebruik altyd:
- 230 g medium vet roomkaas
- 200 g bak margarien (70%) van jou keuse
- 2 koppies versiersuiker
- 1 doppie vanilla geursel
- ½ doppie suurlemoengeursel
- Klop die roomkaas en margarien tot romerig, voeg die versiersuiker, lepels gewys by. Klop tot lekker romerig. Voeg die geursel by en meng deur. Dit behou vorm en is heerlik.
- Elaine Steyn:
- Jy kan maaskaas of roomkaas gebruik. Onthou net, die resep wat bv. aandui dat jy ‘n bakkie vol benodig, is vir roomkaas.
- Wanneer jy maaskaas gebruik, moet jy jou versiersel anders maak. Klop die botter, begin versiersuiker bietjies daarby inmeng. Sodra dit te droog raak, voeg die maaskaas bietjie vir bietjie by totdat dit die regte dikte is.
- Klits vir ‘n paar minute. Jy kan met hierdie metode selfs dubbelroom of gewone jogurt gebruik. Ek doen dit gewoonlik, want roomkaas het verskriklik duur geword.
- Riana Viviers:
- 30 g Rama blok margarien
- 500 g versiersuiker
- 1 teelepel suurlemoengeursel
- 5 eetlepels room of 3 eetlepels melk
- As jy roomkaasversiersel maak, gebruik minder margarien en klits dit met die versiersuiker. Voeg laastens die roomkaas in.
- In baie warm weer, voeg ek bietjie aangemaakte gelatine ook druppelgewys by, terwyl klits. Hou die koek in koelkas sover moontlik.
- Lourette Cronje:
- Resepte se hoeveelheid roomkaas is altyd te veel. Klits die botter en versiersuiker en voeg dan maaskaas en suurlemoensap by net om dit styf genoeg te maak sodat jy dit nog kan smeer. Beter indien geklits met elektriese klitser.
- Sonja Booyens:
- Ek gebruik net die blokke roomkaas, die bakkies is te pap. Hierdie is die enigste resep vir rooifluweel- en wortelkoek wat vir my lekker is.
- 250 g egter botter soos Springbok
- 1 kg versiersuiker, gesif
- 1 blok Phillidelphia roomkaas
- 30 – 60 ml vars gedrukte suurlemoensap of Amarula
- Klits die botter wat kamertemperatuur is, in ‘n bak tot dit lig van kleur en romerig is.
- Klits die roomkaas in ‘n aparte bak.
- Voeg die versiersuiker by die botter terwyl aanhoudend klits en voeg die suurlemoensap of Amarula by.
- Vou die roomkaas by die bottermengsel in met ‘n lepel, nie klits nie, anders word dit ‘n pap besigheid.

