VRYSTAATSE KOEJAWELTERT
Ek het jare gelede n FET kursus in Bloemfontein bygewoon, waar wonderlike dames van die kerk vir ons elke dag middagete-en nagereg-gemaak het. Een middag was die koejaweltert op die spyskaart…en een van die lekkerste yskasterte wat ek nog geeët het. Toe ek vir die resep vra, het hulle gevra “ken jy dan nie Vrystaatse koejaweltert nie??”😂Siende ek van die Oos-Kaap kom, was die antwoord nee. Maar sedertdien het ek die resep al so baie gemaak, dat ek dalk al ‘n ere-Vrystater is.
- 1 gekoopte rolkoek (swiss roll) in omtrent 1 cm dik skywe gesny
- 230-250 g volvet roomkaas (nie maaskaas)
- 1 blik kondensmelk
- sap van twee medium uitgedrukte suurlemoene of 3 eetlepels sap uit ‘n bottel
- 375 g blik koejawels
- 2 eetlepels suiker
- 3 ronde teelepels vlapoeier
- 50 ml water
- 25 ml sjerrie opsioneel
Pak die rolkoekskywe op die bodem van ‘n ronde tertbak.
Klits die roomkaas eers tot glad met ‘n handklitser, en voeg dan die kondensmelk en suurlemoensap by. Klits nog 1 minuut.
Skep die mengsel bo-op die rolkoeklaag.
Verhit die koejawels en suiker saam tot kookpunt. Meng die vlapoeier en water saam om dit op te los. Haal die koejawels van die hitte af en roer die vlamengsel by.
Plaas die vlamengsel terug op die hitte en laat net weer opkook.
As die koejawel nog in baie groot stukke, kan dit met n kombuisskêr kleiner geknip word.
Skep lepelsgewys bo-oor die vulsel.
Laat minstens 2 ure stol in die yskas voordat dit gesny word.
Opsioneel:
Sprinkel sjerrie bo-oor die rolkoeklaag voordat die roomkaasmengsel bo-op geskep word.
Plaas in die yskas tot jy gaan bedien.
Resep geplaas en foto: Ilze Jacobs