VOLSTRUISSTUITJIES IN PEPERSOUS
Indien jy nie volstruisstuitjies ken nie – dit is amper soos skaapstertjies maar jy kan letterlik elke beentjie af eet totdat net die skoon been oorbly.
- 6 – 8 heel volstruisstuitjies
- 2 beesvleisekstrakblokkies
- 1 liter warm water
- 30 ml vars gemaalde swartpeper
- 1 pakkie pepersouspoeier
- 1 eetlepel sout
- 1 eetlepel fyn knoffel
- 125 ml klappermelk of klapperroom
- 500 ml warm water
- mielieblom vir verdikking, indien nodig
Plaas die volstruisstuitjies langs mekaar in ‘n prutpot.
Loos die ekstrakblokkies op in die warm water en bedek die stuitjies met die water.
Kook op hoog vir 5 – 6 ure. Voeg bietjie water by indien daar minder as 1 cm onder in die pot oor is.
Haal stuitjies en die water uit die prutpot sodat dit heeltemal leeg is (die water kan gevries word vir ekstrak).
Plaas die stuitjies terug in die prutpot.
Meng die 500 ml water en klappermelk.
Meng die gemaalde swartpeper, pepersouspoeier, sout en knoffel by die vloeistof.
Giet die gemengde vloeistof oor die stuitjies en prut op laag vir ongeveer 4 – 5 ure of totdat dit lyk of die bene van mekaar wil val.
Indien jy die sous wil gebruik vir ‘n stysel, verdik met bietjie mielieblom en kook deur.
Resep en foto: Bernadene Daniell Prinsloo