VOEDSELVERWERKER SJOKOLADEKOEK EN VERSIERSEL
Ek is nie ‘n groot bakker nie (lees: lui vir al die afmetings, room, sif, vou etc), maar mal oor kook. Gelukkig is hierdie my soort koek, alles gaan in die voedselverwerker in! Die afgesnyde stukkies het soos mis voor die moreson verdwyn, so dink nie dit was te sleg nie. So die een is vir al die gemaklike bakkers💙!!!
- Beslag:
- 3 koppies bruismeel
- ¾ koppies kakao
- 2 teelepels koeksoda
- knypie sout
- 2 koppies suiker
- 1½ teelepel vanilla essense
- 200 g botter of margarien
- 3 eiers
- 1 koppie melk
- 1 koppie vuurwarm koffie
- Versiersel:
- 200 g margarien
- 350 g versiersuiker
- 50 ml warm water met 1 teelepel koffiepoeier
- 2/3 koppie kakaopoeier
- 20-30 ml melk
- 1 blik karamelkondensmelk
- butterscotch of karamel sous vir bo-oor gooi
Plaas al die beslagbestanddele in die voedselverwerker, en meng goed (so 20 sekondes).
Sit die deeg in 2 ronde gesmeerde koekpanne, en bak 40 min by 170ºC.
Laat afkoel en verwyder uit die panne uit.
Smeer karamelkondensmelk oor een koeklaag, sit die ander koeklaag bo-op.
Versiersel:
Plaas versierselbestanddele in voedselverwerker en meng tot glad.
Smeer versiersel bo-oor en rond om die koeklae.
Bedrup met butterscotch sous bo-oor.
Resep en foto: Ilze Garbers Jacobs