VISVINGERS MET KAPOKAARTAPPELS EN “BAKED BEANS”
Voordat ek die resep plaas wil ek net noem dat ek nie baked beans eet nie. My man is egter baie lief daarvoor so ek moes ‘n manier vind om dit lekker te maak. Ek het dit altyd onder die vis uitgeskep en eenkant gelos totdat ek dit een keer per ongeluk raak geëet het. Van daar af eet ek dit, maar net op hierdie manier en dis vir my baie lekker so.
Die kaas in hierdie resep kan net cheddar wees. Weereens is my man gaande oor cheddar, maar ek verkies mozzarella, so ek het elke keer helfte cheddar en helfte mozzarella gebruik.
Die hoeveelheid kaas, sout en peper is na smaak.
Met ‘n heerlike groenslaai is hierdie voldoende vir 6 persone. Dis relatief goedkoop want dis baie vullend.
(Ek is wel nie die beste fotograaf nie, maar hierdie fotos het ek netnou self geneem.)
- 16 visvingers
- sout en suurlemoensap na smaak
- Kapokaartappels:
- 4 medium aartappels
- handvol kaas
- sout en peper na smaak
- Baked beans:
- 1 medium ui
- 1 groot, of 2 klein, tamaties
- sout en peper na smaak
- 1 blikkie baked beans in tamatiesous
Verhit oond vooraf tot 180°C en bespuit of smeer glasbak.
Kapokaartappels:
Skil 4 medium aartappels en kook om gewone kapokaartappels te maak.
Voeg so klein bietjie ekstra melk by dat dit effens papperig is en roer ‘n handvol kaas by.
Baked Beans:
Braai die ui en tamaties lekker saam tot droog. Ek het my tamaties geskil.
Sout en peper na smaak.
Voeg die baked beans met die sous by en prut totdat omtrent die helfte van bone se sous weggekook het.
Bak die visvingers gewoon in olie tot gaar en dreineer op handdoekpapier.
Geur met sout na smaak en drup bietjie suurlemoensap oor vis.
Skep bone in glasbak en rangskik visvingers in ‘n enkellaag bo-op bone.
Skep kapokaartappels bo-op vis en strooi gerasperde kaas oor.
Sit foelie oor en bak 15 minute.
Haal foelie af en bak nog 10 minute of tot kaas bruin genoeg na smaak is.
Laat staan so 10 minute en skep op.
Resep en foto: Alet Schoen Murray