VISVINGER EN RYSGEREG
Lees asb die nota onder aan.
- 250 ml gekapte uie
- 15 ml botter/margarien
- 2 ml kerriepoeier
- 125 ml gerasperde kaas
- 375 ml matige dik witsous
- ± 500 ml gaar rys
- suurlemoensap
- 400 – 500 g (16 – 20) bevrore visvingers
- paprika
- 1 – 2 ryp tamaties, geskil en in skywe gesny
Voorverhit oond tot 200°C.
Smeer ‘n groterige oondvaste bak of bespuit met kleefwerende kossproei.
Soteer die ui in die botter/margarien tot sag. Voeg die kerriepoeier by en braai liggies.
Meng die uie mengsel, kaas en witsous.
Skep die rys in die bak, sprinkel suurlemoensap oor die visvingers en rangskik dit op die rys.
Skep die witsousmengsel oor.
Strooi paprika oor en rangskik tamatieskywe bo-op.
Bak die gereg sowat 30 minute lank tot goudbruin en gaar.
Sit warm voor.
ONTHOU : As jy die resep maak soos bo, dan is jou rys en res van gereg verskriklik droog en hard.
Hoe ek dit doen, anders is jou rys BAIE droog of sommer die hele gereg.
Ek werk nie volgens bogenoemde hoeveelhede nie en die bak wat ek gebruik is ek dink 2 liter of 2.5 liter, dis die bak met die blou blommetjie aan die kant, baie jare oud, maak nie saak nie, vat ‘n lekker groot Pyrex of glasbak.
Spuit bak met kossproei.
Kook ‘n groot pot rys gaar, ek koop ‘n groot pak visvingers, ek gebruik baie.
Maak lekker ekstra witsous, nie te styf nie.
Meng eers jou rys met witsous, moet lekker nat wees.
Skep rys in bak sommer ‘n lekker dik laag.
Vat visvingers en druk hulle diep in die rys in, pak baie vis styf teen mekaar, die rys moet net so effe tussen die visvingers uitpeul.
Sprinkel nou die suurlemoensap oor die visvingers.
Skep nou weer ‘n lekker dik laag witsous oor die gereg, smeer mooi toe.
Pak die gesnyde tamaties bo-op en sprinkel lekker baie gerasperde kaas oor. Ek gebruik cheddar.
Druk in die oond tot goudbruin.
Haal uit oond en sny in groot porsie vierkante.
Skep op en eet.
Nota:
Wanneer jy weer die 2 de gereg maak dan weet jy moet ek ekstra witsous maak of nie, verander die gereg totdat hy vir jou lekker is.
Van haastigheid het ek al baie kere die kerrie, uie, paprika vergeet om by te sit, net so lekker daar sonder.
Dit wat oorbly, sit in yskas, pak in kosblikke vir die werkendes of eet as oorskiet die volgende dag, net so koud, baie lekker, of warm op in mikrogolf vir die wat hou van warm kos.
Lekker eet en laat weet hoe proe dit.
Mooi loop.
Resep deur Yvonne Venter