Your Recipe Blog

VINNIGE YSKASTERT MET VARIASIES

Recipe by
1 1/2 uur

VINNIGE YSKASTERT MET VARIASIES

Ek sit nie graag gekoopte nagereg voor nie, en met beperkte tyd was hierdie eenvoudige resep ‘n wenner toe ek gisteraand moes onthaal.

  • 300 ml room
  • 1 blikkie kondensmelk
  • 1 pakkie pynappeljellie
  • 75 ml suurlemoensap
  • 1 pakkie Tennisbeskuitjies (suurlemoengeur)
  • 125 ml kookwater

Los die jellie op in 125 ml (½ koppie) kookwater.
Voeg helfte van die kondensmelk by die opgeloste jellie.
Meng suurlemoensap saam met die ander helfte van die kondensmelk in aparte mengbak.
Klop die room styf in ‘n redelike groot mengbak.
Vou die jelliemengsel in die styfgeklopte room in.
Vou dan die suurlemoen en kondensmelkmengsel ook by die roommengsel.
Skep jou mengsel in ‘n gesmeerde tertbak wat gereed moet staan met uitgepakte tennisbeskuitjies as kors.
Plaas die tert in die yskas waar die tert sal stol en gereed sal wees om te geniet binne ‘n uur en ‘n half.

Variasie:
Hierdie eenvoudige resep skep ruimte vir baie kreatiewe idees.
Die kortpad in die kors is bloot vir tydsbesparing. Lui is tog so ‘n lelike woord. Druk die koekies fyn en meng met 2 eetlepels gesmelte botter.
Vrugte, soos byvoorbeeld ‘n ¾ koppie fyngemaakte pynappels, sal die vulsel heerlik komplimenteer.
‘n Glanslagie met vrugte vertoon so goed. Nadat jou tert gestol het, sny vrugte fyn en plaas dit versigtig op jou tert. Maak nog bietjie jellie aan met water en gooi versigtig die afgekoel jellie oor die vrugte sodat dit net-net die vrugte bedek. Sit weer in yskas totdat alles gestol het.
Nie so lief vir suurlemoen nie, vervang die jellie met ‘n aarbei geur en sit die hele blik kondensmelk by die opgeloste jellie. Hierdie is dus ‘n eenvoudiger weergawe van die resep, maar verleng die yskastyd tot 2 uur. Voeg vars aarbeie by.

Verder:
Vra die moedige toeskouers om te help roer. Die jellie moet goed opgelos wees.
Die suurlemoen gegeurde tennisbeskuitjies gee ‘n besonderse element aan die resep, maar normale Tennisbeskuitjies sal uit die aard van die saak ook kan werk.
Wanneer almal gaan slaap het, gaan skep vir jou weer ‘n stuk uit. Eet dit alleen terwyl jy dink aan alle goeie dade wat jy vir ander doen.

Resep en foto: Pierre Jordaan

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page