VESELPERSKE (MANGO) YSKASTERT
Hier is ‘n resep wat ek iewers gekry en aangepas het. Dis vreeslik lekker en baie lig. Gaan volgende keer ‘n bietjie groter bak gebruik en probeer met arbeie.
- 1 blik ingedampte melk (Ideal melk), yskoud
- 1 pakkie suurlemoen jellie
- 450 g velselperske (mango)
- 200 ml water
- 125 ml suiker
- 2 teelepels vlapoeier
- 2 pakkies Tennisbeskuitjies
- ongeveer 160 ml botter
Onthou om ingedampte melk in yskas te sit, blikkie moet lekker koud wees, oornag is beter.
Maak Tennisbeskuitjies fyn en meng met genoeg gesmelte botter vir die kors, druk vas onder in ‘n tert bak.
Kook die suiker, water en velselperske saam totdat die verselperske sag genoeg is om fyn te maak, ek het ‘n elektriese klitser gebruik om fyn te maak.
Voeg die vlapoeier en droë jellie poeier by en klits in die pot sodat dit oplos.
Laat mengsel afkoel.
Klits die ingedampte melk tot dit punte maak en vou die velselperskemengsel in met ‘n lepel.
Skep die mengsel oor die Tennisbeskuitjie kors.
Sit in die yskas om te stol.
Geniet.
Resep en foto: Chantelle Roets