VERSUIKERDE VYELEKKERS
Na ‘n bietjie moeite met ons weer wat nie lekker was nie en omdat ek heelwat kere die beslag moes omdraai nadat dit styf genoeg was, het my versuikerde vyelekkers nogals mooi en lekker uitgekom.
- ± 30 tot 40 geskilde vye, gemaal
- 1 koppie suiker, asook ‘n bietjie om die blokkies in te rol om te versuiker
Meng die suiker en vye saam en giet dit in ‘n plat oondpan sodat dit omtrent 8 mm dik is in die pan.
Plaas dit in die son om te droog en as dit styf genoeg is, draai dit gereeld om. Jy kan dit ook stadig op die laagste verstelling van jou oond droog vir omtren 36 uur tot dit droog is.
As dit warm sonskyn weer is, sal dit omtrent 4 dae duur.
Bring dit saans in sodat dit nie dou of vog vang nie.
Ek het dit later nadat dit lekker styf was op ‘n teel geplaas en gereeld omgedraai.
Toe dit genoegsaam gedroog het het ek dit eers in lang mote en toe in blokkies gesny met ‘n skerp mes en nog n bietjie ge-sondroog.
Toe dit genoegsaam gedroog is het ek dit in gewone wit suiker gerol todat dit oral met suiker bedek is.
Verpak in lugdigte houer en geniet.
Resep en foto’s: Gideon Louw
Hallo Stien, het vyelekkers gister gemaak. Vandag heeldag in son. Die lekkers dryf nou in ‘n lekker sous. Moet ek al uithaal en omdraai, of sal sous na 3/4 dae opdroog.
Hallo Anna-Marie, dit is Gideon Louw se resep, en sover ek kan vasstel moet daar geen vloeistof wees nie, so ek weet nie waar die vloeistof vandaan kon nie, dit klink nie reg nie. Maar hy se daar mens draai eers om wanneer hulle droog genoeg is. Neem jy dit saans in en sit weer soggend uit wanneer die son warm is?