VERSKEIE KORSLOSE QUICHE RESEPTE
BASIESE KORSLOSE QUICHE
Resep: Celeste Glöss
Ek maak myne met die volgende basiese bestanddele.
- 1 koppie room
- 1 koppie gerasperde Cheddar kaas
- 4 eiers
- Smeer ‘n tertbak, grootte van jou keuse.
- Meng die vulsel van jou keuse, spinasie, feta, broccoli, ekstra cheddar, oorskiet maalvleis, enige iets werk. Skep die vulsel in ‘n quiche pannetjie tot ongeveer ¾ vol.
- Meng die room, eiers en kaas en giet eweredig oor die vulsel.
- Indien verkies, sprinkel nog kaas oor.
- Bak by 180ºC vir +- 30 minute of tot gaar.
Altyd ‘n treffer.
SPINASIE, SAMPIOEN EN SPEK KORSLOSE QUICHE
Resep: Elmarie Bekker
- Vulsel:
- 2 bossies vars spinasie, opgekap
- 2 medium uie, fyn gekap
- 1 pakkie sampioene, gesny
- 2 pakkies spek, gesnipper
- Feta kaas, opsioneel
- Stoom die spinasie vir 10 tot 15 min met sout en peper na smaak.
- Braai die uie, spek en sampioene saam tot gaar en krakerig, voeg die spinasie by en roerbraai alles lekker saam.
- Skep in ‘n oondvaste bak wat gespuit is met kleefwerende kossproei en krummel die feta bo-oor.
- Vla:
- 6 eiers
- 1 koppie melk
- 1 koppie room
- 1 koppie bruismeel
- 1 koppie gerasperde kaas
- sout en peper, opsioneel
- Meng die bestanddele vir die vla en skep lepelsvol eweredig bo-oor die vulsel en bak by 180ºC vir 30 min.
SPINASIE EN SPEK QUICHE MET WITSOUS BASIS
Resep: Louw LP Senior
Lewer 8 porsies
- 800 g babaspinasieblare
- 250 g spekvleis, gesnipper
- 45 ml koekmeel
- 375 ml melk
- 6 eiers, geklits
- 5 ml Dijonmosterd
- 500 ml gerasperde Cheddar kaas
- vars gemaalde swartpeper na smaak
- Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n middelslag-oondbak met botter.
- Stoom die spinasie tot net-net gaar, dreineer en druk alle water uit.
- Kap die spinasie fyn, hou eenkant.
- Braai die spek in ’n pan tot gaar, voeg die koekmeel by en verhit vir ’n paar sekondes terwyl jy roer.
- Voeg die melk by en verhit tot kookpunt, roer aanhoudend.
- Prut vir 2 – 3 minute tot die sous dik en gaar is, verwyder van die hitte.
- Roer die spinasie by en laat effens afkoel.
- Roer die eiers, mosterd, kaas en swartpeper by en meng goed deur.
- Skep die mengsel in die voorbereide oondbak en bak vir ± 30 – 40 minute, tot ferm.
- Bedien as ligte ete of as bygereg met gebraaide wors of hoender.
KORSLOSE QUICHE-SOUTTERT
Resep: Emma Beetge
- 6 eiers
- 2 eetlepels bruismeel
- ⅓ koppie melk
- bietjie Italiaanse speserye
- ½ koppie kaas, gerasper
- 1 pakkie spek, opgesny
- ½ bakkie sampioene, gekerf
- 1 ui, fyn gesny
- Braai die spek, sampioene en ui liggies saam in ‘n pan.
- Meng al die bestanddele saam en voeg sout en peper by na smaak.
- Voeg die mengsel in ‘n oondvaste bak, strooi kaas bo-oor en bak by 180ºC vir ongeveer 45 min.
KORSLOSE QUICHE MET BROCCOLI
Resep en foto 1: Amanda Conradie
- 15 ml olyfolie
- 2 rooi-uie, gesny
- sampioene, soveel soos verkies
- 250 g broccoli
- 5 ml gedroogde tiemie
- 30 ml koekmeel
- 2 groot eiers
- 125 ml crème fraîche of suurroom
- 100 g Gouda kaas, gerasper
- Verhit die olie in ‘n groot pan en soteer die uie.
- Voeg die sampioene en tiemie by en braai dit vir 3 minute.
- Voeg die meel by en roer goed deur.
- Voeg die ongekookte broccoli by.
- Klop die eiers, crème fraîche en kaas saam in ‘n bakkie en meng dit met die sampioenmengsel.
- Giet die mengsel in ‘n gesmeerde 22 cm tertpan.
- Bak die quiche vir 20 minute of tot gaar en goudbruin in ‘n warm oond.
- Bedien met ‘n groenslaai.
SPEK EN KAAS QUICHE / SOUTTERT
Resep: Petra Pretorius Seaton
Geskik vir diabete, gebruik die resep in oorleg met u eie dieetplan.
Ek gebruik die vla as ‘n basis vir enige vulsel, groente is ook baie lekker in die quiche.
- 4 eiers
- ¾ koppie room
- ¾ koppie melk
- ½ koppie kaas
- ¾ koppie spekvleis, koue gaar hoender of ham blokkies
- 1 teelepel vars gekapte pietersielie
- sout en peper
- 1 meduim ui, fyngekap
- 1 eetlepel fyngekapte groen soetrissie, opsioneel
- Klits die eiers eers apart goed saam en voeg dan die res van die bestanddele by.
- Voeg die mengsel in ‘n oondvaste tertpan en bak in die oond by 180ºC vir 35 – 40 minute.
UIE, TAMATIE EN SPINASIE QUICHE
Resep en foto 2: Adam Cloete
- 1 groot ui, in dik ringe gesny
- 2 tamaties, in skywe gesny
- +- 200 g spinasie
- ⅔ koppie ongegeurde jogurt
- 1 koppie melk
- 1 pakkie “Potato Bake”, geur van jou keuse, ek het kaas en uie geur gebruik
- 2 eiers
- 1 ½ wiele Feta kaas
- bietjie gerasperde Cheddar kaas om bo-oor te sprinkel
- Kook die spinasie tot die blare net verwelk en dreineer deeglik.
- Plaas die tamatieskywe in ‘n dreineringsbak en strooi bietjie sout oor om solank bietjie van die sap te verloor tot jy dit benodig.
- Sprinkel bietjie sout oor die uie en braai dit oor matige hitte tot dit begin karamaliseer.
- Spuit ‘n groot genoeg oondbak met kleefwerende kossproei en pak eers ‘n laag uie op die bodem.
- Breek die spinasieblare in stukkies en strooi dit oor die uie.
- Volg dit op met die tamatieskywe en krummel die Fetakaas bo-oor.
- Meng die melk, jogurt en eiers en klits die “Potato bake” poeier daarby.
- Giet dit oor die mengsel in die bak en sprinkel bietjie Cheddar kaas bo-oor.
- Bak die quiche by 180ºC vir 30 minute.
KORSLOSE TUNA-QUICHE
Resep: Engela Olckers
Lekker aandete, min moeite.
- 45 ml margarien of botter
- 30 ml koekmeel
- 250 g Cheddar, gerasper
- 2 blikkies tuna, gedreineer
- 6 groot eiers
- 250 ml suurroom
- ½ ui baie fyn gekap
- 30 ml vars pietersielie, gekap, opsioneel
- 5 ml droë mosterdpoeier
- sout en rooipeper na smaak
- Voorverhit die oond tot 180 ºC en smeer ‘n tertbord met margarien.
- Smelt die margarien of botter in ‘n pan tot gesmelt en soteer die ui tot sag.
- Roer die koekmeel by die ui, verwyder van die hitte en roer die kaas en tuna by.
- Klits die eiers deeglik, voeg die suurroom, pietersielie en geurmiddels by en roer goed.
- Voeg die roommengsel by die tuna-mengsel en meng deeglik.
- Skep die mengsel in die oondvaste tertbord en bak in ‘n warm oond vir ongeveer 35 minute tot goudbruin. Bedien met heerlike vars groenslaai.
KORSLOSE KAAS QUICHE MET WITSOUSBASIS
Resep en foto 3: Adam Cloete
- 60 ml botter
- 60 ml koekmeel
- 150 ml melk
- 5 groot eiers, liggies geklits
- 1 x 250 g bakkie gladde maaskaas
- 2,5 ml Dijon-mosterd
- 2,5 ml bakpoeier
- 100 g Gruyère of beleë Cheddar kaas, gerasper
- 5 sprietuie, in fyn ringetjies gesny
- 30 ml gerasperde parmesaan en roket, om voor te sit
- Smelt die botter in ’n kastrol, voeg die meel by en roer.
- Haal dit van die plaat af en roer die melk bietjies-bietjies by om ’n baie dik witsous te vorm.
- Plaas die kastrol terug op die plaat en laat vir vyf minute kook, roer die heeltyd.
- Haal van die plaat af en roer nog vyf minute tot afgekoel.
- Meng die eiers, maaskaas, mosterd en bakpoeier in ’n bak en geur dit na smaak.
- Meng die eiermengsel met die witsous en roer die gruyère of cheddar en sprietui by.
- Skep in ’n gesmeerde oondbak en bak vir 30 minute in die oond, tot goudbruin en gaar in die middel. Sprinkel die Parmesaan oor die warm quiche en laat dit vir 10 minute rus.
- Sny en sit met roketblare voor.
BASIESE QUICHE VLA MET VULSEL VAN JOU KEUSE
Resep: Carien Louw le Roux
Hierdie resep maak ek baie, jy kan enige vulsel inmeng. Van my gunsteling is gebraaide murgpampoentjies en spek of botterskorsie, feta en bietjie bloukaas. Ek het ook al einde van die maand sommer net gemengde groente en viennas gebruik, steeds baie lekker.
- Vla:
- 2 eiers, geklits
- 50 ml koekmeel
- 1 ¼ koppie melk
- 5 ml mosterd
- 2 koppies Cheddar kaas
- sout en peper na smaak
- Maak ‘n mengsel van die vulsel volgens eie keuse bv. gaar groente of kouevleise en meng dit saam met die eiermengsel.
- Skep in ‘n voorbereide oondbak en bak teen 170ºC vir 45 minute of tot gestol.
GROOT KORSLOSE QUICHE
Resep: Hilda Lourens
Ek het weer my korslose quiche gemaak, die vulsel wat ek gebruik het was spinasie, bietjie feta en sampioene.
Die vegetariers in my gesin was baie gelukkig hiermee. Baie lekker en maklik.
- 3 koppies melk
- 6 eiers
- 3 koppies kaas
- 3 teelepels mosterdpoeier
- 200 ml bruismeel
- sout en peper na smaak
- Meng die vla-bestanddele goed saam.
- Plaas ‘n vulsel van jou keuse in ‘n groot tertbak, byvoorbeeld tuna en sampioene, spinasie en feta, oorskietvlies of gemengde gevriesde groente ens.
- Skep die vla-mengsel oor die vulsel en bak in ‘n warm oond van 180ºC vir 30 minute of meer volgens jou oond of tot gestol en bruin bo-op.














