VEREBESKUIT MET KONDENSMELK
Lewer sowat 150 lang beskuite.
- 375 ml melk
- 250 g botter of margarien
- 200 g witsuiker (250 ml)
- sowat 1 liter sterk lou water
- 60 ml korrelsuurdeeg of kitsgis
- 40 ml sout
- 2.5 kg koekmeel
- 2 eiers, goed geklits
- ½ blik kondensmelk (379 g), sien nota onderaan
- 25 ml suurlemoensap
- ekstra botter / margarien, om die hande mee te smeer
Kook die melk, botter en al die suiker behalwe 15 ml saam, laat afkoel.
Meng 500 ml van die lou water, die suurdeeg, 7.5 ml van die sout en die 15 ml suiker wat eenkant gehou is.
Roer genoeg van die meel hierby om ‘n pannekoekbeslag te vorm.
Hou dit louwarm tot goed uitgerys na sowat 15 minute.
Meng die eiers, kondensmelk en suurlemoensap goed.
Meng die oorblywende sout met die res van die meel.
Voeg melk, suurdeeg- en eiermengsel by en gebruik nog sowat ½ liter lou water om die beskuit mee aan te maak en te knie.
Die deeg moenie styf wees nie. Knie die deeg 20 minute lank en smeer die hande dikwels tydens die knieery.
Bedek die deeg en laat dit goed uitrys totdat dit dubbel die oorspronklike grootte is.
Maak bolletjies sonder om die deeg eers af te knie. Die bolletjies moet ‘n bietjie kleiner as hoendereiers wees.
Rol elke bolletjie in ‘n worsie tussen die handpalms, druk dit plat en plaas dit taamlik styf teen mekaar in gesmeerde beskuitpanne wat skuins staan.
Smeer die hande met sagte of gesmelte botter of margarien terwyl die bolletjies gemaak word, want dan is dit nie nodig om tussen die bolletjies ook te smeer nie.
Laat die beskuit in die panne rys totdat dit gelyk met die rand van die panne is.
Bak die beskuit 70 minute by 190 ºC (375 ºF).
Keer die beskuit op draadrakke uit en laat afkoel. Breek versigtig oop, pak op draadrakke in die oond en droog oornag in ‘n koel oond uit met die oonddeur op ‘n skrefie oop
Nota: Kiti De Jager
Een liter op 2.5 kg meel Velia. Jy gebruik 500 ml vir jou starter (die suurdeeg slap degie) en dan gooi ek die gekookte melk mengsel, die kondensmelk/eier mengsel en nog 500 ml louwarm water by voor ek die res van die meel ingooi. Bygesê, ek weeg al my bestanddele, dan weet ek presies die regte hoeveelheid meel is daarin.
Nota: Adele Maarais Kuit
Dit is ook beter om jou kitsgis met jou meel te meng as jy die pannekoek beslag maak anders werk dit nie goed nie.
Ek het ook ‘n hele blik kondensmelk gebruik.
Foto: Adele Marais Kuit