VEELSYDIGE SOUTTERT
Hierdie souttert is nou al ‘n algemene verskynsel in die Louw woning. Hoekom? Omdat dit so lekker is. Hierdie was ons aandete saam met bromkool en ‘n skeppie herenboontjies slaai en onnodig om te sê dit was djeeeeeeerlik.
Die resep is vir klein tertjies, maar vroulief het dit als in een bak gedoen en gebak in die oond vir 1 uur op 180 ºC in ‘n voorverhitte oond.
Hierdie is ‘n baie veelsydige resep ons doen dit soos hieronder genoem ook in kolwyntjie pannetjies.
- Broodmengsel:
- 4 snye brood
- 1 koppie melk
- ¼ koppie botter
- Smoormengsel:
- 2 gekerfde uie
- 250 g spekstukkies
- 250 g sampioene
- ½ – 1 teelepel swartpeper
- Vulsel:
- 3 geklitste eiers
- 2 koppies gerasperde kaas
- 1 desert lepel droë mosterd (12.5 ml)
- 1 teelepel rissievlokkies
- 1 blikkie weense worsies, gedreineer en in wieletjies gesny (behou die pekelwater)
Week die brood in die melk en voeg die botter by.
Smelt alles in die mikrogolf oond vir vyf minute haal uit en klits die mengsel sodat dit ‘n dik deeg vorm.
Smoor die uie, spek stukkies en sampioene saam tot dit droog is. Voeg die swartpeper by.
Meng die smoormengsel en die broodmengsel saam.
Voeg dan die vulsel, insluitend die pekelwater by.
Meng alles saam en skep in kolwyntjie pannetjies en bak in ‘n voorverhitte oond op 180 ºC vir 45 min.
Foto en resep: Gideon Louw












