VARKWORS- EN PATATBREDIE IN DIE PRUTPOT
“Ek dink nie ek het al ooit so gereeld kos in die prutpot gemaak soos dié jaar nie… dalk die besige dae en die koue… dan is dit heerlik om by die huis in te stap na ‘n lang dag, en aandete te ruik. So, hierdie is ‘n varkworsie- en patatbredie in die prutpot. Bedien dit op kapokaartappels of rys, of as jy lui is soos ek – saam met knoffelbrood…vir die sous…😋. Ek plaas alles in die bak van die prutpot die aand voor die tyd en bêre dan die bak in die yskas. Dan sit ek dit aan net voor ek skool toe gaan – so myne het vandag 8 – 9 ure op laag gekook.”
- 2 uie, grof gekap
- 15 cm stuk seldery, gekap
- 4 medium wortels, in growwe stukke gesny
- 8 varkworsies, elk in 4 stukke gesny
- 10 cm tak roosmaryn
- 2 tot 3 takkies tiemie
- 1 medium oranje of gewone patat, geskil en in growwe stukke gesny
- 1 blik gekapte tamaties
- 1 eetlepel tamatiepasta
- 200 ml kookwater
- 1 blokkie hoenderekstrak
- 1 teelepel gerookte paprika
- sout en peper, na smaak
- 2 teelepels suurlemoensap
- 1 eetlepel pietersielie, gekap
Braai die uie, seldery en wortels in olie vir 5 – 10 minute tot goudbruin. Skep onder in prutpot. Braai wors in dieselfde pan tot bruin. Skep ook in prutpot. Skep en strooi gekapte tamaties, tamatiepasta, kookwater, hoenderekstrak, paprika, sout en peper in pan en laat opkook totdat al die stukkies onder in die pan losgekom het.
Skep patat, roosmaryn en tiemie in prutpot, en giet dan tamatiesous bo-oor.
Kook 4 – 5 ure op HOOG, of 6 – 8 ure op LAAG.
Roer die suurlemoensap heel aan die einde deur (net voor opskep), en strooi pietersielie bo-oor.
Resep en foto: Ilze Jacobs