Your Recipe Blog

VARKSTEAKS/HOENDERBORSIES IN BRUINGEBRAAIDE KNOFFELBOTTER

VARKSTEAKS/HOENDERBORSIES IN BRUINGEBRAAIDE KNOFFELBOTTER

Goeiemôre aan almal hier vanuit ‘n koel Nieu-Seeland somersaand. Ek het hierdie resep op die internet raak geblaai en dit so bietjie verander na my smaak. Dit het ‘n gunsteling geword by ons en ek maak dit gereeld. Die metode lyk langdradig, maar ek het raad probeer gee aan diegene wat die maak van witsous uitdagend vind. Dis nogal moeilik om 100% die regte hoeveelheid botter en vloeistof aan te dui, aangesien ek witsous al sedert my huishoudkundeklas-dae maak, maar ek het my bes probeer om so na as moontlik te skat. Hierdie sous is op sy eie selfs heerlik oor gebraaide biefstuk. Voeg gerus nog tiemie of oreganum by indien jy voel die geur is te flou.

  • 5 – 6 eetlepels botter (nie kunsbotter nie)
  • 1 knoffelhuisie of meer na smaak, geskil en in dun repies gesny
  • 4 – 6 varksteaks by kamertemperatuur (jy kan die varktjoppie met die been in ook gebruik, sny net kepe in die harde vel anders trek die tjoppie bak of verwyder die vet en been in geheel OF jy kan hoenderborsies ook gebruik. Indien die hoenderborsies baie dik is, sny hulle horisontaal in die helfte deur)
  • 1 koppie vars sampioene, in skyfies gesny of meer na smaak
  • 1 eetlepel gedroogde oreganum
  • 1 eetlepel gedroogde tiemie
  • 1 hoenderekstrak pot, opgelos in so kwart koppie kookwater
  • ± 100 ml koekmeel
  • 1¾ koppie vars room (ek gebruik helfte room, helfte melk – ek voeg die room en melk so om die beurt by tot ek die verlangde tekstuur vir die sous kry)
  • sout en peper na smaak
  • paar skyfies parmesaankaas, opsioneel

Wenk:
Terwyl ek met die vleis en sous besig is, kook ek solank die pasta (tagliatelle/fetticcini werk lekker). Dreineer die pasta, gooi dit terug in die warm pot en sprinkel olyfolie of groente-olie oor en meng vinnig deur. Plaas ‘n deksel op die pot. Dit voorkom dat jou pasta aan mekaar sal vaskleef.

Verhit die botter in ‘n lekker wye diepboom pan tot die botter goed warm en skuimend is (om hierdie rede werk margarien nie lekker in dié resep nie). Voeg die dun skyfies knoffel by en braai die knoffel tot dit lekker bruin is, maar nie gebrand (die knoffel sal krakerig en bruin wees).
Plaas die varksteaks/varktjoppies/hoenderborsies in die warm botter en knoffel en braai tot lekker bruin aan albei kante (braai tot net gaar anders is jou vleisie kurkdroog). Hier kan jy bietjie sout en peper bygooi, maar neem in ag dat die hoenderekstrak ook souterig is. Wanneer die vleis gaar is, verwyder uit pan en hou eenkant. Voeg nou die sampioene, oreganum en tiemie by en braai tot gaar. Indien jy voel die botter is bietjie min in die pan, voeg nog botter by, want jy wil hierdie botter gebruik om jou witsous te maak (dis gewoonlik dieselfde verhouding meel teenoor botter, maar ek maak dit met die oog so dis moeilik om presies te sê).
Sodra sampioene gaar is, voeg meel by en roer goed deur (die ideë is hier om nie te veel meel vir te min botter te hê nie of andersom. As dit die geval is, verwyder die pan van die stoof, voeg nog botter of meel by en roer tot die meel goed met die botter gemeng is). Sit die pan terug op die stoofplaat en stel die plaat ‘n bietjie hoër (mediumhoë hitte).
Roer nou aanhoudend vir so minuut of twee sodat die meel kan gaar raak. Die meel en botter sal blekerig word en skuimerig voor kom. Voeg nou die kwart koppie hoenderaftreksel by en roer voortdurend (hier moet jy nie rondblaai op Facebook of besluit om ‘n vriendin te bel nie. Die persoon wat by die voordeur klop, moet maar vir ‘n wyle aan ‘n tak hang). As jou mengsel na vele geroer klonterig voorkom, is die stoofplaat te warm. Verwyder pan van stoof, roer goed tot klonte verwyder is en sit terug op stoofplaat. Voeg nou die room en die melk om die beurt by tot jy die verlangde dikte sous het. Sodra die sous begin prut, plaas die vleis terug in die pan sodat die vleis kan opwarm. Voeg nog sout en peper na smaak by. Ek voeg selfs bietjie aromat by. Bedien saam met pasta met ‘n paar repies parmesaankaas bo-op.

Resep en foto: Landi Hartzenberg Ferreira

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page