TURKSE MANTI
Ek hoop julle eet lekker. Hierdie dis voer jou Turkye toe al is jy in Suid Afrika. Jy kan ‘n stukkie van dit proe en voel al kan jy nie gaan nie. Wat dinge meer spesiaal maak is die feit dat jy alles self gemaak het. Ek het die resep verdubbel sodat ek kon vries vir later ook. Dis ‘n maklike, vinnige ete wat jy gou uithaal uit die vrieskas en vinnig gaarmaak vir die gesin. Hierdie resep dateer reeds van die 1200’s af. Tradisioneel moet dit so klein wees dat 40 van hulle op ‘n lepel kan pas. Maar ek haal my hoed af vir die mense wat dit kan doen. Hulle maak dit kleiner as 2 cm blokkies.
- Deeg:
- 2 koppies koekmeel
- 2 eiers
- 1 eetlepel olie
- ¼ koppie water
Meng die deegbestanddele en knie dit goed. Die deeg moet glad nie aan jou hande kleef nie. Voeg meer meel of water by terwyl jy knie, indien dit te slap of te styf is. Bedek die deeg met ‘n klam doek en hou die deeg eenkant tot benodig.
- Maalvleismengsel:
- 200 g maalvleis
- 1 ui fyn gerasper, sonder sy sous
- 1 teelpel paprika
- sout en peper na smaak
Meng maalvleisvulsel se bestanddele goed saam en hou eenkant.
- Spinasievulsel:
- 1 bos spinasie, gekook en gedreineer
- 1 groot aartappel, in sout water gekook
Dreineer gaar spinasie en aartappel en maak seker dat alle water afgedreineer is, dit is baie belangrik dat dit heeltemal droog is. Blits nou die spinasie en aartappel saam in die voedselverwerker tot deeglik gemeng. Pas geursel aan indien nodig.
- Jogurtsous:
- 1 kg Griekse jogurt/ongegeurde jogurt
- ½ eetlepel knoffel
- Bottersous:
- 4 – 5 eetelepels botter of Rama margarien
- 1 teelepel paprika
- ½ teelepel rooipeper
Begin met die Mantı-proses.
Jy rol een vel pasta op ‘n keer, veral as jy alleen werk (sodat dit nie vinnig kan uitdroog nie).
Neem van die deeg en rol dit uit. Sny die uitgerolde pastavel in 3 x 3 cm blokkies. Plaas net ‘n druppel vulsel in die middel van die blokkies. Ek het my vleisvulselblokkie gevou soos ‘n blommetjie en die spinasievulsel een soos ‘n servet. Sien die fotos in die gallery.
As jy klaar gevou het, plaas dit in ‘n skinkbord waarop bietjie meel gestrooi is, sodat dit nie aan mekaar kleef nie. Hou aan tot al die deeg en vulsel gebruik is.
Nota:
Op hierdie punt kan jy dit verpak en vries indien dit nie alles gaargemaak gaan word nie, of indien jy dit later wil gebruik.
Bring ‘n groot pot water tot kookpunt. Die water moet aggressief borrel. Voeg sout in die kokende water en plaas jou Mantı versigitg in die kokende water sodat dit nie aanmekaar kleef nie.
Terwyl die manti kook, meng die jogurt en knoffel saam, hou eenkant. Smelt die botter of Rama in ‘n pan en voeg die paprika en rooipeper by.
Wanneer jou Mantı dryf op die oppervlak, is dit gaar. Dit neem omtrent 3 – 4 minute. Dreineer die water af in ‘n sif en dien die Manti op met die jogurtsous en gesmelte botter wat jy liggies oor dit sprinkel.
Lekker eet.
Resep en fotos: Linda Greyling