TESSIE SE GEBAKTE KAASKOEK
Die maklikste en heerlikste GEBAKTE KAASKOEK!! Die resep bak ek al baie jare en nog nooit fout gegaan nie. Ek het die ringpan gebruik… groter as ‘n gewone dubbellaag grote koek. Die resep is vir ‘n lekker groot kaaskoek. Jy kan die resep verdubbel en in enige kleiner pan of bak sit soos jy verkies.
- 3 x 250 g gladde maaskaas
- 250 ml suiker
- 250 ml vars room
- 4 eiers
- 60 ml suurlemoensap
- 125 ml koekmeel
- bessies en vrugte soos verkies vir versiersel
Klits maaskaas en suiker tot goed gemeng en voeg die room stadig by terwyl klits.
Meng die eiers, suurlemoensap en koekmeel by en klits tot stywerig.
Skep in voorbereide losboom pan.
Bak vir 10 min teen 180°C en stel dan die oond laer tot 150 °C vir ongeveer 1½ uur.
Wanneer dit nog EFFENS sag is in die middel, sit oond af en hou ‘n rukkie in oond. Haal uit oond.
Wanneer afgekoel is, versier met vrugte soos foto of bedien net soos jy wil.
Notas:
Indien jy ‘n sjokolade kaaskoek wil bak, doen die volgende:
Gebruik dieselfde resep – smelt 300 g donker sjokolade oor kookwater.
Voeg dan die gesmelte sjokolade net na die room by en klits goed.
Sif kakao oor die gaar kaaskoek en smelt nog sjokolade en versier bo-op soos jy verkies.
Resep en foto: Kokkedoor Tessie Els Kemp (My dogter Jeanné het die kaaskoek gebak)