SWEEDSE FRIKKADELLE MET SOUS
Hierdie resep is ‘n heerlike internasionale variasie op gewone frikkadelle – vark of bees maalveis in ‘n romerige sous = Swedish meatballs! Weet nie hoe outentiek dit is nie (het ongelukkig geen Sweedse bloed nie), maar dis die resep wat ek gebruik… baie baie lekker!
- Frikkadelle:
- 500 g vark of bees maalvleis
- ½ ui, gekap
- 200 ml broodkrummels
- 1 eier
- 1 eetlepel pietersielie, gekap
- 1 eetlepel vars tiemie
- sout en peper, na smaak
- ½ teelepel neutmuskaat (nutmeg)
- Sous:
- 3 eetlepels botter/margarien
- 2 eetlepels koekmeel
- 1 ½ koppie bees-aftreksel
- 2 eetlepels Worcestershire sous
- 1 eetlepel Dijon mosterd
- 2 eetlepels bosbessie/moerby konfyt
- 200 ml melk
- 1 eetlepel droë dill
- sout en peper na smaak
Meng al die frikkadel bestanddele saam. Vorm in frikkadelle, en braai vlak in bietjie olie weerskante tot goudbruin. Plaas eenkant.
Smelt botter in dieselfde pan, en voeg meel by. Roer goed vir 2 minute oor lae hitte, en voeg bees-aftreksel, Worcestershire sous, mosterd, konfyt en melk by, asook die frikkadelle.
Prut 10-15 minute oor ‘n lae hitte met ‘n toe deksel totdat sous dik is.
Roer dill, sout en peper by. Hou warm tot opdiening.
Bedien saam met rys en groente van jou keuse.
Resep en foto: Ilze Garbers Jacobs