SWEEDSE APPELKOEK
Ek het hierdie appelkoek gebak vandag. Ek het die resep op google gekry, maar moet weereens sê, dit lyk glad nie soos op die foto wat google by het nie, en hoeveel keer leer ons dit nie. Tog so jammer, maar daarom toets ons dit en gee dan vir julle die ware prentjie. Dit is baie lekker, maar niks “whow” nie, maar my man hou nie van ‘n te soet koek nie, en saam met bietjie room of roomys is dit heerlik. Dit is regtig nie ‘n droë koek nie, smake is lekker, maar lees my notas indien jy hom wil probeer.
- 180 g koekmeel
- 1½ teelepel bakpoeier
- ½ teelepel sout
- 120 g botter, versag
- 150 g witsuiker of strooisuiker
- 2 groot eiers
- 5 ml vanilla geusel
- 120 g gewone jogurt of suurroom*
- 2 medium appels (ongeveer 250 g), geskil, ontkern en in dun skyfies gesny
- 10 g suurlemoenskil
- Ekstra:
- bruinsuiker
- kaneel
Voorverhit die oond tot 180ºC.
Smeer en voer ‘n losboompan van 20 cm uit met bakpapier.
Meng meel, bakpoeier en sout in ‘n bak en hou eenkant.
Verroom botter en suiker in ‘n groot mengbak tot lig en donsig.
Voeg eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging. Roer vanilla en suurlemoenskil by.
Nota:
Dit sal lyk of die mengsel skif, maar moenie stress nie, dit kom weer reg.
Haal die mengbak uit die menger en meng verder met die hand en ‘n houtlepel.
Meng die jogurt of suurroom by.
Voeg die droë bestanddele geleidelik by die natmengsel, roer net totdat dit gemeng is.
Skep die helfte van die beslag in die voorbereide koekpan.
Rangskik die helfter van die appelskywe bo-oor en sprinkel ‘n lagie bruinsuiker en kaneel oor.
Skep die oorblywende beslag oor die appels en bedek dan met die oorblywende appelskywe, sprinkel weer bruinsuiker en kaneel oor.
Bak vir 60 – 70 minute, of tot ‘n tandestokkie in die middel skoon uitkom.
Verwyder uit die oond en maak die buite ring los.
Laat die koek vir 10 minute afkoel voordat dit op ‘n draadrak geplaas word. Wees versigtig hy is “broos”.
Bedien warm of by kamertemperatuur.
Notas:
Ek sal volgende keer die appels bietjie dikker sny en dit net ‘n rukkie kook in suikerwater, veral die boonste appels is nie vir my lekker sag nie. Ek glo selfs geblikte appels sal dalk beter werk.
Ek het baie min suiker tussen die twee lae gestrooi, ek sal dit volgende keer bietjie meer maak.
*Ek het gewone room suur gemaak met bietjie suurlemoensap en dit het goed gewerk.
Die koek is glad nie soet nie, ek sal dit bedien met room of roomys.
Resep getoets en aangepas deur Rina Kleinhans