SUZANNE SE HOENDERPASTEI
Vandag op ons borde, hoenderpastei, bobotie, gebakte aartappel, gemengde groente in witsous en rys. My siel het gesmag na warm kos. 🤗
- 2 rolle skilferkorsdeeg
- 2 heel hoenders, gaar en uitgepluis
- 1 ui
- 1 bakkie sampioene
- 1 teelepel tiemie
- 1 teelepel roosmaryn
- 1 teelepel gerookte paprika
- swartpeper na smaak
- 500 ml melk
- 50 g botter
- 125 g koekmeel
- wit uiesoppoeier
- geklitste eier vir bo-oor smeer
Braai ui in pan, voeg sampioene by en braai tot gaar. Sit die hoender, tiemie, roosmaryn en paprika in die pan en braai so bietjie tot alles lekker saam gemeng is. Maak soppoeier aan volgens aanwysings op pakkie, giet saam met die hoendermengsel in die pan en laat prut tot meeste vloeistof verdamp het.
Maak in aparte pot witsous.
Smelt botter en voeg koekmeel en sout by. Meng melk geleidelik by tot gladde witsous vorm maar roer aanhoudend. Skep hoendermengsel in witsous in, sit swartpeper by na smaak en meng goed deur. Laat heeltemal afkoel.
Rol deeg uit en plaas in gesmeerde pasteibak. Skep afgekoelde hoendermengsel oor deeg en plaas volgende rol deeg bo-op.
Smeer met eier en bak 45 min teen 180°C in die oond tot goudbruin.
Resep en foto: Suzanne Petersen












