SUURLEMOENPIEKELS
‘n Eetlepel of twee hiervan neem enige kerrie na die “next level” en is ook heerlik as ‘n condiment saam met amper enigiets. Baie baie lekker.
- 14 – 16 suurlemoene
- growwe sout
- borrie
- Piekelmengsel:
- 6 teelepels komyn (cumin seed)
- 3 teelepels vinkel (fennel seed)
- 3 teelepels fenugriek
- 1 teelepel rissievlokkies
- 1 kaneelstokkie
- 1½ eetlepel mosterdsaad
- 6 knoffelhuisies, gekap
- 2 eetlepels gemmer, gerasper
- ¾ koppie olyfolie
- 2 eetlepels sesame olie
- ¾ koppie wit asyn
Was die suurlemoene en sny in die helfte deur, en dan in kwarte. Pak ‘n laag suurlemoenkwarte in ‘n groot glasbottel wat goed seël, en sprinkel 1 eetlepel growwe sout en 1 eetlepel borrie bo-oor. Herhaal die lae (met sout en borrie) totdat die bottel amper vol is. Laat staan vir minstens 1 maand (maar tot en met 6 maande) op ‘n vensterbank in die son, en draai die bottel elke 3de dag om sodat die inhoud kan fermenteer.
Wanneer die suurlemoenmengsel gefermenteer en gereed is, berei die piekels soos volg:
Rooster die speserye in ‘n warm pan totdat dit ‘n kraakgeluid (crackle) maak, maar nie rook nie. Verwyder speserye uit die pan. Braai die knoffel en gemmer in die olies vir 5 minute.
Voeg die asyn en 4 koppies van die gefermenteerde suurlemoenmengsel by en kook vir 10 minute, terwyl dit gereeld geroer word. Verwyder die kaneelstokkie en bottel warm.
Lewer ± 4 botteltjies (400 ml) piekels.
Resep en fotos: Ilze Jacobs