SUURLEMOEN-JOGURTKOEK
Dis die heerlikste klam koek en maklik om te maak. Ek het waar die opsie is om gramme te gebruik, dit eerder so gedoen as om koppies af te meet, dit voel net vir my meer presies. My baktyd was seker maklik 10 min langer. Ek dink ook ek sal volgende keer iets anders probeer vir versiering, hierdie is effe suur vir my, maar die res van die gesin was gek daarna.
- Koekpan: 25 cm
- 1½ koppie koekmeel
- 1 teelepel bakpoeier
- ¼ teelepel koeksoda
- ¼ teelepel sout
- 170 g sagte botter (¾ koppie)
- 200 g suiker (1 koppie)
- 3 eiers
- ⅔ koppie gewone griekse jogurt
- 3 eetlepels suurlemoensap
- 1 eetlepel suurlemoenskil
- 1 teelepel vanilla geursel
- Versiersel:
- 1 koppie versiersuiker
- 3 eetlepels vars suurlemoensap
Voorverhit oond tot 170°C vir ten minste 15 minute. (Ek doen 180°C, my oond is baie stadig)
Gebruik “spray and cook” of plaas botterpapier in die pan.
Plaas ‘n sif op ‘n mengbak en sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam.
In ‘n ander bak, klits die botter en suiker saam tot lig.
Voeg die 3 eiers een op ‘n slag by die bottermengsel en klits goed na elke eier bygevoeg is.
Voeg die jogurt, suurlemoensap en vanilla geursel by.
Meng goed deur, voeg die meelmengsel bietjie vir bietjie by en meng die beslag met die hand net totdat die beslag gevorm is.
Voeg die suurlemoenskil by.
Moenie dit te veel meng nie. Skep die beslag in die voorbereide pan.
Plaas die pan op die middelste rak van die oond en bak by 170°C vir 30 tot 35 minute.
Toets of die koek gaar is deur ‘n skoon mes of ‘n toetspen in die middel in te steek. Dit moet skoon uitkom.
Indien nie, bak vir nog 5 minute en kyk weer.
Laat die koek vir 15 minute afkoel op ‘n draadrak en keer uit. Laat heeltemal afkoel en giet die versiersel versigtig oor die koek.
Versiersel:
Berei die suurlemoenversiersel deur die suurlemoensap en versiersuiker te meng.
Giet oor die afgekoelde koek en bedien.
Resep geplaas deur Stien Rust
Foto: Stien Rust