SUURLEMOEN- EN VLATERT
- 4 pakkies Tennisbeskuitjies
- 2 blikkies kondensmelk
- 200 ml vars uitgedrukte suurlemoensap
- 1 liter melk
- 200 ml vlapoeier
- 250 g botter
- 1 koppie strooisuiker
- 2 teelepels vanilla-ekstrak
- 100 g wit sjokolade
- 25 g kookwater
Meng die kondensmelk en uitgedrukte suurlemoensap.
Meng twee eetlepels van die suiker met die vlapoeier en maak aan met bietjie van die melk tot ‘n gladde pasta.
Meng met die res van die melk en bring tot kookpunt, roer gedurig om aanbrand te verhoed.
Dis ‘n baie dik, stywe vla. Koel af tot sterk lou.
Klits die botter en die strooisuiker tot lig en bleek. Voeg die lou vla by en klits baie goed tot koel. Klits die vanilla-ekstrak by.
Pak ‘n laag tennisbeskuitjies onder in ‘n groot plat bak. Smeer die helfte van die kondensmelkmengsel bo-oor en maak gelyk. Volg dan op met ‘n laag tennisbeskuitjies. Smeer dan ‘n dikkerige laag vla oor en dan weer beskuitjies. Smeer ‘n laag suurlemoenmengsel oor, en dan beskuitjies.
Hou so aan tot die bak vol is of tot die bestanddele op is. Eindig met ‘n laag vla.
Maak ‘n ganache van die wit sjokolade en kookwater deur dit saam te smelt, koel af tot kamertemperatuur.
Giet bo-oor die laaste vlalaag en versier met beskuitjiekrummels.
Verkoel bedek vir ten minste twee ure, maar oornag is beter.
Resep en foto: Frikkie Jones