SUURLEMOEN EN BOTTER HOENDERBORSIES
Hierdie resep is uit die boeke lekker, ek kan dit regtig aanbeveel. Al raad wat ek het is, kry al jou bestanddele reg, want vandat die borsies in die pan ingaan tot klaar, is ongeveer 10 minute, daar is nie tyd vir rondval nie. Bedien dit ook dadelik, anders raak die borsies oorgaar van die staan. Ek het die borsies saam met patat kapokaartappels en ‘n mengelslaai met avocado bedien. Hierdie resep gaan beslis in my “keep” boekie in.
- 4 groot hoenderborsies, in die lengte deurgesny
- 2 eetlepels koekmeel
- 1.5 teelepels Italiaanse kruie
- 1 teelepel growwe swartpeper
- 1.5 teelepels sout
- 1 teelepel knoffelpoeier
- ½ teelepel suiker of versoeter
- 4 eetlepels botter (2 x 2 eetlepels)
- 2 eetlepels olyfolie
- 3 eetlepels vars suurlemoensap
- 1 teelepel suurlemoenskil (zest)
- 3 eetlepels vars pietersielie, gekap
In ‘n klein bakkie meng die meel, Italiaanse kruie, sout, peper, knoffelpoeier en suiker saam.
Pak die hoenderstukkies op ‘n skinkbord en sprinkel helfte van die mengsel mooi eweredig oor die vleis, druk dit lekker vas. Draai die vleis om en doen dieselfde aan die anderkant. Sit die hoender stukkies vir ongeveer 30 min of tot gebruik in die yskas.
Gebruik ‘n groot kleefvrye pan waarin die vleis plat lang mekaar kan lê. Verhit 2 eetlepels botter en die olyfolie in die pan tot medium warm. Maak seker die hele pan se bodem is bedek met van die oliemengsel. Pak die hoender in die warm oliemengsel en laat ongeveer 3 – 5 minute braai tot net goudbruin, nie te lank nie, draai die hoender om en doen die ander kant, ook ongeveer 3 – 5 minute.
Sodra die hoender amper reg is sit die ekstra 2 eetlepels botter in die pan, laat dit net smelt en roer die hoender deur die botter. Haal van die hitte af en giet die suurlemoensap en zest oor die hoender. Draai die hoenderstukke om dat albei kante van die sous kry. Sprinkel gekapte pietersielie oor en bedien dadelik.
Resep aangepas en foto’s deur Rina Kleinhans