SUPERSAGTE BROODROLLETJIES
Ek deel graag hierdie staatmaker resep. Die rolletjies is ‘n wenner elke keer, dit is die lekkerste, sagste rolletjies.
- 1 kg koekmeel
- 150 g stooisuiker
- 10 g kitsgis
- 20 g sout (3.5 teelepels)
- 375 ml water
- 335 ml melk
- 150 g botter, opgesny in blokkies van ongeveer eetlepel grootte
- 20 ml suurlemoensap (5 teelepels)
- ekstra botter vir smeer en verf
In ‘n mengbak van ‘n elektriese staanmenger, meng die meel, suiker, gis en sout saam.
Voeg die water, melk en botter in ‘n glasbak en verhit dit in die mikrogolf vir ongeveer 2 minute op hoog, roer die mengsel gereeld.
Die botter moet net sag wees en nie heeltemal gesmelt nie.
Voeg die bottermengsel en suurlemoensap by die meelmengsel in die mengbak.
Monteer die deeghaak aan die menger en stel die menger se spoed op laag en meng tot ‘n sagte deeg vorm.
Vermeerder die spoed na medium-laag en knie die deeg 10 – 15 minute, totdat die deeg sag en elasties is.
Indien nodig, voeg ‘n bietjie meel by as die deeg te slap is. Die deeg moet effens klewerig, maar nog hanteerbaar wees.
Bedek die mengbak met die deeg, met kleefwerende plastiek en laat dit rus vir 30 minute.
Smeer intussen ‘n oondbak van 500 x 300 mm met botter.
Vorm die deeg in ‘n vierkant en sny die vierkant in 15 ewegroot porsies (3 x 5).
Vorm elke porsie in ronde bolle en pak die 15 deegbolle in die voorbereide oondpan.
Verf die deeg met water, deur te verhoed dat dit uitdroog tydens die rysproses.
Laat staan die pan met deeg eenkant en laat rys die deeg tot dubbel in volume.
Bak die deegrolletjies in ‘n voorverhitte oond teen 190ºC vir 14 – 16 minute tot die bokante goudbruin is.
Verwyder die pan met die rolletjies uit die oond en verf die gaar rolletjies met gesmelte botter.
Dit is supersag, met ‘n fyn tekstuur soos winkeldeegrolletjies.
Nota:
Suiker en sout kan aangepas word na smaak, sonder noemenswaardige verskil aan resultaat.
Jy kan die rolletjies in enige vorm maak. Hotdogs, burgers of selfs net so.
Ek het groot hotdog rolletjies gemaak vandag. Krom en skeef, maar heerlik.
Resep getoets en foto: Tienie Steyn