STOKVIS- EN AARTAPPELKOEKIES
Ek het gister weer hierdie viskoekies gemaak. ‘n Treat vir my vriende by die aftree oord hier naby, want hulle uitgaan maatreëls is baie streng. Ons mag darem kos by die hek afgee oppad winkel toe.
- 1 kg stokvis, heeltemal ontdooi, indien gevries
- 3 groot aartappels (plus botter en bietjie melk – soos vir kapokaartappels)
- 1 eetlepel Ina Paarman’s aartappel geurmiddel
- 1 groot ui, gerasper of bossie grasuie, fyn gekap
- pietersielie na smaak, fyn gekap
- knippie vars tiemie – suurlemoentiemie werk lekker
- 5 ml vars gekapte knoffel
- 10 ml suurlemoensap
- 2 teelepels bakpoeier
- 2 geklitste eiers (groot, nie ekstra groot of jumbo nie)
- koekmeel om viskoekies in te rol
- olie vir braai
Plaas die stokvis in ‘n bietjie melk, voeg sout en peper by.
Bring tot kookpunt, kook slegs ‘n minuut of twee, skakel plaat af en laat staan die vis vir 20 minute.
Verwyder die vis uit die melk en plaas in ‘n mengbak, vlok liggies.
Kook die aartappels, maak fyn en voeg bietjie botter en melk (uit pot) asook die aartappel geurmiddel by.
Roer die eier en bakpoeier by die aartappelmengsel.
Voeg die ui, pietersielie, tiemie, knoffel en suurlemoensap by.
Meng die aartappelmengsel en die vis.
Maak viskoekies.
Kleiner koekies is makliker om te hanteer, die beslag is redelik sag.
Rol in meel en bak in vlak olie tot bruin, omtrent 3 minute aan elke kant.
Draai net een keer om, moenie oorhaastig wees nie, die koekies raak stewiger na’n rukkie.
Gebruik ’n eierspaan of twee vurke om dit om te draai.
Nota:
Ek het vars Panga vis gebruik wat nou beskikbaar is. Baie lekker. Kyk net mooi vir die fyn graatjies. Ek het gegeurde rys en koolslaai saam met dit gemaak. Hierdie is redelike groot viskoekies in die foto (100 g elk).
Resep en foto: Louise Groenewald