SPINASIE, SPEK, SAMPIOEN EN FETA QUICHE
Ek het vandag hierdie souttert gemaak, maar sommer ‘n baie grootte in ‘n 5 liter foelie bak. Ek het 8 viennas en 10 snye ham by gesit en die resep 2 keer aangemaak, en ek het die deeg 3 keer aangemaak. Hierdie is ‘n heerlike deeg en ek is seker mens kan dit net so oprol in ‘n wors, en wieletjies sny en bak vir ‘n sout koekie, dit is heerlik. Ek het ongeveer 35 porsies gesny uit die 5 liter tertbak.
Vir ‘n gewone diep 22 cm ronde foelie bak, het ek al die bestanddele soos in die resep gebruik, maar net 1 pak (250 g) spinasie en dit was nog net so lekker.
- Kors:
- 100 g koekmeel
- 100 g botter
- 100 g Cheddarkaas, fyn gerasper
- ½ teelepel vars tiemie, fyn gekap
- Vulsel:
- 500 g spinasie, gekerf en grof gekap
- olie om spek en uie in te braai
- 250 g spek
- 1 groot ui
- 2 blare knoffel Chives
- 300 g sampioene
- grofgemaalde swartpeper en Aromat
- 1 blok Feta, gekrummel
- Bolaag:
- 3 eiers
- 100 ml melk
- 1 blok Feta, gekrummel
- bietjie rooipeper
Meng die meel, botter, tiemie en kaas met ‘n voedselverwerker totdat dit ‘n deeg vorm.
Druk deeg in tertborde uit onder en langs die kante om die kors te vorm.
Plaas in vrieskas vir 15 min. Braai die spek, uie, sampioene en knoffel chives in olie tot gaar.
Dompel spinasie vir ‘n minuut in kokende water. Skep uit en druk water uit.
Meng goed met spekmengsel.
Voeg peper en aromat by, asook 1 blok gekrummelde feta kaas.
Meng goed.
Skep mengsel eweredig in korse. Strooi gekrummelde feta kaas oor.
Klits eiers, melk, bietjie sout en grofgemaalde swartpeper saam.
Giet oor die spinasievulsel.
Sprinkel ‘n bietjie rooipeper oor, asook vars gekapte pietersielie.
Bak vir sowat 40 tot 45 min in oond by 180ºC.
Variasie: Chante Putter
Ek het 150 g korrel maaskaas by die bolaagmengsel bygevoeg en gerasperde Cheddarkaas ipv die Fetakaas by die vulsel gebruik.
Ek hou nie van ‘n baie dik kors nie en my quiche ring is redelik dun en daarom nie al die betanddele vir die kors gebruik nie. Ek het die kors bestanddele wat oorgebly het in ‘n ziplock sakkie geplaas en gevries. Die korsdeeg vries baie mooi en kan ongeveer 6 maande in die vrieskas gehou word. Wanneer jy dit weer wil gebruik, plaas dit oornag in die yskas om te ontdooi.
Resep geplaas deur Jeanette Van Rooyen-Strydom
2de foto: Rina Kleinhans
Hoof foto: Chante Putter