SPEKSMEER VIR SOUTBESKUITJIES
Hierdie reseppie het ek al jare. Die papier is al geel van ouderdom, ink verdof en verweer plek-plek. Ten minste 30+ jaar oud.
Vandag vir die eerste keer gemaak en paar aanpassings gemaak. Resep sê net mayonnaise maar dis dan hopeloos te suur vir my. Ek het dit gemeng met gewone joghurt. En daardie tyd was peppadews ook nog nie op die rakke nie. Is heel tevrede.
Sal dit weer vir spasiale geleenthede maak of net halveer. Te veel vir ons tweekies. Nie seker of dit sal vries nie.
- 250 g spek (shoulder of iets anders maar nie streaky bacon nie)
- 125 g gerasperde kaas
- 75 ml mayonnaise
- 100 ml plein volroom jogurt
- 50 ml fyngekapte agurkies
- 50 ml gekapte ingelegde peppadews
- 15 ml gerasperde ui
- 5 ml aangemaakte mosterd
Snipper spek fyn en braai tot gaar (nie bros nie). Laat dit afkoel.
Meng met res van bestanddele. Bewaar in yskas. Skep lepelvol op sout beskuitjies.
Ek rasper deesdae my agurkies met die growwe kant van my rasper.
Baie vinniger, makliker en gee my ewe groot stukkies.
Geniet!
Resep en foto: Lorraine Weitz Brand












