SPANSPEK KOUTJIE
‘N outjie se foutjie raak ‘n lekker koutjie. Ekt ‘n ruk terug twee mooi spanspekke in die vrieskas gesit sodat dit net moet afkoel en toe vergeet ek van hulle en daar sit ek met twee yslike ronde blokke spanspek ys.
Ek wou dit nie weggooi nie en verpulp toe die een nadat dit ontdooi en geskil is en los eers die ander een innie vrieskas. Die verpulpte een was nie sleg nie, want ek’t nie roomys gehad om by te sit nie, maar ons het die sap gepollish.
Toe haal ek die tweede een uit en laat dit ontdooi maar met ‘n heel anner plan:
- spanspek, gevries
- suiker na smaak
- sout na smaak
Ek sny spanspek in skywe wat ek afskil en die skywe sny ek toe in plat strokies omtrent 5 tot 8 mm dik.
Ek pak eers ‘n laag in ‘n plat bak en sprinkel ‘n bietjie suiker en sout oor, maar soos in liggies.
Pak dan die volgende laag ook met sout en suiker en gaan so aan tot die strokies spanspek op is en plaas in yskas vir 3 ure.
Dreineer die ergste water af.
Maak draad hakkies en hang dit onder ‘n waaier vir 4 tot 5 dae tot dit uitgedroog is.
Dit was ‘n foutjie maar is ‘n heerlike koutjie.
Resep en foto: Gideon Louw