SOETSUURDEEG BROOD
Vorige aand 9 uur insuur:
Gebruik middelslag kastrol en plaas die volgende daarin:
- 3 koppies kookwater
- 2 koppies koue kraanwater
- 1 Eetlepel elk suiker en sout
Roer ongeveer so 5 handevol Nutty Wheat of Bruinbrood meel in tot mengsel “romerig” vertoon.
Ek het Riebeek se Growwe Stoneground gebruik.
Plaas die deksel op die kastrol. Maak warm toe om hitte solank moontlik te behou vir rysproses. (Nie oond warmte).
Volgende oggend 5 uur oorsuur:
Roer 1 koppie sterk lou water in by jou suurdeegplantjie en weer ongeveer 1 koppie van meel.
Laat weer rys tot suurdeeg oorloop.
Kry intussen knieskottel gereed:
Neem 2,5 kg meel van eie keuse. Voeg sout by, so ongeveer groot eetlepel.
Maak holte in meel en gooi suurdeegmengsel daarin en genoeg sterk lou water. Nie te veel nie jy kan altyd weer aanvul.
Knie nou jou deeg.
Wanneer die deeg lekker los van jou hande kom, voeg ongeveer 250 g gesmelte botter en 2 eetlepels olie by.
Knie goed deur.
Maak toe en laat rys. Tyd nie altyd dieselfde. Sodra vol gerys, knie af, sit in gemeerde panne.
Laat rys tot panne vol is.
Bak by 180 ºC vir so ongeveer 50-60 minute, ken jou oond.
Wanneer jy op die brood klop sal dit hol klink, dan is dit gaar.
Verf botter oor gaar kors vir mooi en sagte kors.
Siedaar. Moeite en tyd werd!!
Resep en foto: Riana Heyns
O ek lus so my ouma se plaasbrood en ek dink die resep klink soos hare! Dankie! Gaan dadelik probeer. Soek net haar effe sout plaasbotter wat altyd gelyk het asof daar so ‘n bietjie water bo-op was.
Geen aartappel?
Hi Anel, nee dit is nie die aartappelsuurdeeg nie, maar die soetsuur suurdeeg, hy werk heerlik as jy hom eers aan die gang het.
Groete
Rina
Hi Rina
Hoe hou jy die plantjie aan die gang.
My ma het altyd met n soet suurdeeg ons brood en beskuit gebak waar die suurdeeg in die yskas gestaan het. Sy het n gedeelte gebruik en weer met water getop en so was Daar altyd suurdeeg in ons huis .
werk die resep ook so
Groete Gerda
Hi Gerda, nee hierdie resep maak jy elke keer die aand voor die tyd ‘n nuwe plantjie, en gebruik dan die volgende dag al die suurdeeg. Daar is wel ‘n resep op ons blog vir die suurdeeg wat jy elke keer net weer insuur, en dan ‘n plantjie hou in die yskas. Hierdie resep kan jy ‘n plantjie bere in die yskas en net elke keer uithaal, laat afkoel tot kamertemperatuur, weer dag 6 herhaal en dan gebruik om te bak.
http://www.foodloversrecipes.com/2018/09/day-by-day-sourdough-starter/
Hi Rina
Baie dankie vir hierdie resep wat jy deel.
Ek wil dit probeer het nog nooit ingesuur maar gaan jou instruksies volg.
Waar koop jy die meel wat jy hier noem?
Baie dankie
Annemarre Botha
Hallo Annemaree
Jong deesdae koop mens stoneground meel sommer in die winkels op die rak by die meel. Dit is al ‘n paar jaar terug, toe het ek dit by ‘n meule gekoop, maar dit is nou oral beskikbaar.
Hoop jou brood kom heerlik, he maar net geduld, as die suurdeeg plantjie eers lewe het, is jou kop deur.
Groete
Rina
Hi Rina
Dankie vir jou antwoord.
Ek wil graag boer beskuit bak kan ek dieselfde resep gebruik
Hoe lank rys dit die 2de keer?
Baie dankie vir jou moeite om al my vrae te antwoord ek waardeer.
Annemaree, Wanneer jy jou bolletjie gemaak en in die pan gepak het, laat jy dit rys tot die panne net vol is, dan kan jy bak.
Lekker bak.