SOET SUUR HOENDER MET SAMPIOENE EN PYNAPPEL
Hierdie is ‘n heerlike resep, bietjie baie moeite om te maak, maar so die moeite werd, ek kan dit regtig aanbeveel.
- 4 ontbeende hoenderborsies, in blokkies gesny
- sout, peper en hoenderspeserye, na smaak
- 1 koppie mielieblom
- 2 eiers, geklits
- kookolie, vir diep braai
- 1 blik pynappel stukke
- 1 pak sampioene, opgesny
- Sous:
- 1.5 koppie suiker
- 1 koppie tamatiesous
- 1.5 koppie appelasyn
- ½ koppie sweet chillie sous
- 2 eetlepels Worcestersous
- 2 eetlepels balsamiese asyn
- 2 eetlepels soya sous
- 2 teelepels knoffelpoeier
Neem die hoenderblokkie en sprinkel sout, peper en hoenderspeserye oor, meng deur en laat staan eenkant.
Neem twee plastiek bakkies, plaas in die een die mielieblom en in die ander die geklitste eier.
Sit ‘n lekker groot swaarboom kastrol op die stoof en sit al die sous bestanddele daarin, bring tot kookpunt en roer elke nou en dan. Sit die pot eenkant op die stoof en maak die olie medium warm in ‘n ander dieperige pan.
Neem die hoenderstukkie een-een en doop in die mielieblom, dan in die eier en sit in die warm olie. Moenie te veel op ‘n slag in die olie sit nie, dan sal jou olie te vinnig afkoel. Braai net liggies tot lig bruin, haal uit met ‘n gleufies lepel en pak in die sous. Herhaal tot al jou hoenderstukkies klaar is.
Sit nou die pot met die sous en hoenderstukkies terug op die plaat en draai die hitte laag.
Voeg die pynappelstukke met sous en al oor die hoender en dan die gekapte sampioene. Roer liggies deur, sit die deksel op en laat stadig kook vir ongeveer 30-40 min.
Roer elke nou en dan versigtig deur sodat jou degie nie van die hoender afgaan nie.
Toets jou sous en indien te suur, voeg nog bietjie suiker by indien nodig. Wanneer die smaak van die sous reg is, meng die mielieblom wat oorgebly het met klein bietjie water en meng versigtig deur die sous, prut tot die sous lekker dik is, ongeveer 10 min.
Bedien saam met pasta of rys.
Resep en foto: Rina Kleinhans