SOET-SOUT PAMPOEN
Ons hou baie van pampoen, maar raak soms uitgeëet aan soet pampoen, pampoenkoekies en pampoentert. Hierdie is vir ons baie lekker (en vinnig/maklik) om te maak. Dis soet van die suiker, maar met stukkies souterige uie wat deurkom.
Gee min of meer mates (het nie ‘n resep nie).
- 4 dikkerige skywe pampoen, geskil
- 1 groterige eetlepel margarien
- 1 ui, grof opgesny in stukkies
- sout na smaak
- suiker na smaak
Braai die ui in die margarien in ‘n groterige pan. (die ui moenie heel gaar wees nie.)
Ek voeg sommer klaar my sout op die ui, dit voorkom ook dat die ui nie swart aanbrand nie.
Plaas rou pampoen skywe bo-op die gebraaide ui.
Voeg so 3 – 5 eetlepels water by.
Draai plaat af tot lae hitte en sit deksel op.
Ek laat dit stadig stoom tot sag.
Strooi suiker oor so soet soos jy daarvan hou en draai plaat weer na warm.
Kook die oortollige water af tot die botter/suiker mengsel begin dik word.
Dis reg wanneer die vloeistof begin karamelbruin word en borrels maak.
Ek staan maar by die stoof vir hierdie proses sodat dit nie aanbrand en bitter word nie.
Geniet dit!
Resep en foto: Lorraine Weitz Brand