SMELTSAGTE GESTOPTE CALAMARI
Stoom die calamari buise en braai dit dan vinnig in suurlemoen-en-knoffelbotter – jy sal nie glo hoe heerlik sag dit is nie!
- Vulsel:
- 2 wiele Fetakaas, gekrummel
- 125 ml (½ koppie) roomkaas
- 125 ml (½ koppie) gerasperde Pecorinokaas
- 4 pikantrissies, gekap
- 2 jalapeño-rissies, gekap
- Calamari:
- 14 calamaribuise, skoongemaak
- 1 suurlemoen, in skywe gesny
- 80 ml (⅓ koppie) botter
- 3 – 4 knoffelhuisies, gekap
- sap en skil van 1 suurlemoen, met ’n repieskiller geskil
- 2 – 3 takkies vars tiemie
Vulsel:
Meng al die bestanddele vir die vulsel. Maak seker die calamaribuise is goed skoongemaak – kyk of daar enige plastiekerigheid aan die binnekant is.
Calamari:
Skep die vulsel in ’n spuitbuis en spuit die calamaribuise goed vol. Steek die opening toe met peuselstokkies.
Pak die suurlemoenskywe in die bak van ’n stomer. Plaas die calamaribuise bo-op.
Stoom 8-10 minute tot die calamari gaar is en net van glaserig tot wit verkleur het.
Smelt die botter in ’n groot pan. Voeg die knoffel, suurlemoensap, -skil en tiemie by en verhit tot die mengsel geurig is en die botter effens verbruin het.
Voeg die calamari by en meng dit net vinnig deur die bottermengsel tot goed bedek.
Sit voor saam met lekker groot stukke Franse brood en ekstra wiggies suurlemoen.
WENK:
Skep dieselfde vulsel op groot bruinsampioene, in rooi soetrissiebakkies of maak ’n spleet in hoenderfilette en vul dit daarmee voor jy dit in die oond druk.
Resep geplaas deur Linda Venter
Foto: Ansi Pypers Fourie
2de foto: lze Jacobs – Het hierdie resep vannaand aangepak en dit was heerlik!! Het ook ‘n paar gaar NZ mossels bygevoeg wat bitterlik lekker was. Bedien met borrie cauli rys – keto en diabeet vriendelik ook!