SKORSIEPASTEI
- 7 medium skorsies (ek het eintlik groot gesoek)
- 500 g spek, opgesny
- 3 medium uie, fyngekap
- 1 groen soetrissie, ontpit en fyngekap
- 3 eetlepels “spring onion” roomkaas
- 1 rol skilferkorsdeeg
- geklitste eier, om oor die deeg te smeer
Voorverhit die oond tot 180 ºC.
Sny die skorsies se koppe bo versigtig af en ontpit. Kook in water (sonder sout, die spek en cream cheese is sout genoeg vir die dis) tot gaar maar nie pap nie en laat water goed dreineer.
Braai intussen die spek, uie en soetrissie tot gaar en voeg die roomkaas by (dit sal nou bietjie sous maak maar van dit kook weg).
Rol die deeg oop (nie dunner uitgerol nie) en druk sewe sirkels uit die deeg (ek het sommer die roomkaas se deksel gebruik, dit was net mooi regte grootte) om bo op die skorsies as “deksels” te plaas.
Skep die skorsies lekker vol vulsel en plaas die degie oor. Dit bedek so 3/4 van die skorsie. Druk effens vas aan skorsie. Smeer eier oor die hele deeg. Druk dadelik met ‘n vurk ‘n paar gaatjies die sodat stoom/vog kan ontsnap.
Plaas op ‘n vooraf gesmeerde bakplaat en bak vir ongeveer 20 minute (hang af van jou oond se hitte, hou dop) tot deeg goudbruin en krakerig is.
Geniet saam met gemengde groente of slaai van jou keuse.
Nota:
Maalvleis (met sous) sal ook goed werk.
Resep en foto’ s: Christelle Van Rooyen