SKILPADJIES A LA B
- 1 kg gemaalde wilds lewer (ek maal altyd my lewer en niertjies en hart saam)
- 1½ teelepel sout
- ½ teelepel peper
- ½ teelepel BBQ spice
- 2 eetlepels Worcestersous
- 2 eetlepels chutney
- 1 ui, gerasper
- knippie nutmeg
- knippie naeltjies
- netvet
Meng al die bestanddele.
Neem die netvet en sny in omtrent 10 x 10 of 6 x 6 cm blokke, afhangende hoe groot jy dit wil maak.
Sit van die lewermengsel op elke blok, en vou mooi toe.
Steek vas met tandestokkies en sprinkel braai speserye en pietersielie bo oor.
Braai op middelmatige warm kole.
Resep en foto: Benhet Nieuwenhuis
Nota: Elize de Kock
Eerstens jy moet die vet mooi uit “render” sonder om dit te brand, en jy wil die lewer ook nie droog hê nie, net gaar. Medium kole beslis nie te warm ,en vergeet die toeknyp rooster jy braai dit met ‘n tang op ‘n oop rooster. Drup so 2 keer suurlemoen sap oor terwyl jy braai, jy draai gereeld om so elke 2 minute sodat dit reg rondom mooi stadig bruin word. Op my vuur en horlosie is dit 20 – 25 min. Draai elke 2 min na ‘n anderkant. As jy al lank braai sal jy sommer met die tang op hom druk en as hy nie pap is nie maar weerstand bied en mooi bruin is dan is hy gaar. Laat bietjie rus voor bedien.