SKEEPSWRAK ETE
Dit lyk soos ‘n skeepswrak, smaak soos koningskos. En dis vining. Die voorbereidingstyd hang van hoe vining jy pakkies kan oopknip en/of blikkies kan oopmaak! En dit sal magies en mae volmaak op ‘n besige middag of aand.
- 500 g maer gemaalde beesvleis met 15 ml olie vir braai
- 250 g pakkie macaroni- en kaasmengsel of improviseer met jou eie mengsel – gebruik dan 250 g skulppasta en met jou eie geursels
- 420 g blik gesnyde tamaties (gooi sous ook in); of vars tamaties, gekap
- 1 koppie (250 ml) melk
- 1 koppie (250 ml maatbeker vol) bevrore ertjies; of 1 koppie uit blik (gooi sous ook in)
- 1 koppie (250 ml maatbeker vol) bevrore mielies; of 1 koppie uit blik – gooi sous ook in (heel mieliepitte, nie roommielies nie)
- 1 teelepel (5 ml) gegeurde sout (geur van sout na eie smaak), of hoeveelheid na smaak
- 1 koppie (250 ml maatbeker vol) gerasperde cheddarkaas, in twee verdeel
Verhit ‘n groot kastrol oor medium-hoë hitte met die olie. Kook en roer maalvleis in die warm pot vir 5 – 7 minute tot bruin en krummelrig.
Roer pasta-en kaasmengsel van die macaroni- en kaaspakkie by die maalvleis. Die vloeistowwe sal die pasta gaar en sag maak. Voeg tamaties, melk, ertjies en mielies by die maalvleismengsel, roer. Laat die mengsel kook, verminder die hitte tot medium-laag, plaas ‘n deksel op die kastrol en prut totdat die noedels sag is, ongeveer 12 minute.
Geur die gereg met sout. Roer ongeveer die helfte van die cheddarkaas by om te smelt.
Skep in opdienbak.
Strooi res van die kaas bo-oor.
Vir afwisseling:
Koppie bevrore, voorbereide fajita-groente en ‘n bietjie taco-geurmiddels – dan het jy ‘n “Golf van Meksiko Skeepswrak”.
Italiaanse geurmiddels, knoffel, uie en mozzarella – dan het jy ‘n “Sisiliaanse Skeepswrak”.
Bietjie kerrie, koljander, kaneel, paprika, klein bietjie rosyne ens – dan het jy ‘n “Kaapse Maleise Skeepswrak”.
Nota:
Die kombinasies is redelik onbeperk. Alhoewel die resep bevrore groente en ongekookte gemaalde vleis vra, werk oorskiet vleis en groente net so goed.
Resep en foto: Wadi