SKAAPSTERTJIES OP AARTAPPELS- EN UIESKYWE
- 12 skaapstertjies, “getrim”
- 1 ui, in skywe (1 cm) gesny
- 2 aartappels, in skywe (1 cm) gesny
- 1 roosmaryntakkie se blaartjies
- 3 tiemietakkies se blaartjies
- 10 ml olyfolie
- 10 ml Worcestersous
- 10 ml suurlemoensap
- 5 ml geparsde knoffel
- braai speserye, volgens smaak
- 10 ml mosterdkorrels
- 5 ml gemaalde koljander
- sout en gemaalde peper
- 5 ml rissievlokkies
- 1 suurlemoen skil, gerasper
- gesnipperde grasuie, na smaak
Sit die stertjies in ‘n bak. Meng die olyfolie, knoffel, suurlemoensap en Worcestersous saam. Giet die mengsel oor die stertjies en vryf die stertjies met die mengsel in.
Meng die speserye by die oorblywende oliemengsel en vryf in die stertjies in sodat die stertjies regom bedek is.
Bedek met kleef plastiek en sit in die yskas vir ten minste 30 minute of tot gebruik.
Pak ‘n laag uie onder in die oondbak gevolg met die aartappel skywe.
Geur met sout en peper en ‘n paar tiemie en roosmaryn blaartjies.
Pak die skaapstertjies bo-op die aartappel en uie bed en sprinkel gerasperde suurlemoenskil en die res van die roosmaryn en tiemie oor.
Verhit die oond tot 160°C op bak en rooster. Bedek die stertjies met foelie en neem oond toe vir 1½ uur.
Verwyder die foelie en laat onbedek in die oond vir ‘n verdere 30 – 45 minute tot bros en deurgaar en die aartappels ook sag en gaar.
Bedien op die deurdrupte aartappels en uie.
Strooi gesnipperde grasuie oor vir garnering.
Resep en foto: Johan Rossouw