SKAAPKOP IN DIE OOND
My wederhelf vat pad as daar ‘n skaapkop op ‘n bord vir haar loer. Plan B: Ontbeen en bêre die res vir later om die fyn vleisies uit te eet.
- 1 skaapkop, goed skoongemaak en afgespoel
- 1 groot ui, in 1 cm dik ringe gesny
- 2 groot wortels
- 120 ml water
- 4 wonderpeperkorrels
- 2 naeltjies
- 1 lourierblaar
- sout en gemaalde swartpeper
- suurlemoensap
- braaisous opsioneel*
Verhit die oond tot 180°C.
Plaas die uieringe in ‘n oondbak en sit die skaapkop bo-op die uie bed.
Plaas die wortels aan weerskante en gooi die wonderpeperkorrels, naeltjies en lourierblaar by.
Smeer die kop in met suurlemoensap en geur goed met sout en peper.
Giet die water in ‘n oondpan, bedek die skaapkop met foelie en seël die kante van die pan.
Bak vir 2 ure.
Verwyder die foelie en verlaag die hitte na 160°C.
Bak onbedek vir nog 2 ure tot goudbruin en bedruip gereeld met die pansous.
Nota:
Sny die wange en ander vleise uit en bêre die brein vir ontbyt op roosterbrood.
*Opsioneel kan die skaapkop met ‘n braaisous gesmeer word en gebak word vir die laaste 2 ure.
Resep en foto: Johan Rossouw