SJOKOLADEMOUSSE VIR TWEE
As jy keto/low carb/’n diabeet is, is nageregte altyd moeilik. Maar hierdie sjokolade mousse kan gemaak word in 10 minute en jy kan dit maak selfs as jy nie keto is nie; gebruik dan net strooisuiker/versiersuiker in plaas van versoeter. Een van die vinnigste nageregte ooit, en baie baie lekker.
- 80 g volvet roomkaas, by kamertemperatuur
- 125 ml room
- 1 teelepel vanilla geursel/ekstrak
- versoeter/suiker na smaak
- 2 eetlepel kakaopoeier
- ½ teelepel fyn koffiepoeier, opsioneel
- 1 blokkie sjokolade (ek het 90% sjokolade gebruik)
Klits die roomkaas vir 30 sekondes tot glad.
Voeg die room en vanilla by en klits oor ‘n lae spoed vir omtrent 60 sekondes, totdat dit begin verdik.
Voeg die versoeter, kakao en koffiepoeier (indien gebruik) by, en klits totdat die mengsel styf is (nog ongeveer 20 – 30 sekondes).
Proe of dit soet genoeg na smaak is en pas aan indien nodig.
Skep in klein ramekins en laat staan in die yskas vir 30 minute tot 1 uur.
Versier met ‘n halwe blokkie sjokolade en bedien.
Resep en foto: Ilze Jacobs